Malema is nie die probleem nie; Jesus is!
top of page

Malema is nie die probleem nie; Jesus is!


Daar’s iets wat my pla oor sommige Christene in Suid-Afrika. Almal – ook in gelowige kringe – praat steeds gereeld oor grondhervorming. Almal is ontsteld. Almal is onthuts, bang en kwaad want Julius Malema wil ons grond hê. Die ANC speel nou boonop so reg in sy hand. Dis asof baie gelowiges se lewensgeluk steeds baie nou gekoppel is aan wat in die politiek en ekonomie aan die gang is. Die atmosfeer om braaivleisvure is skoon toksies soos wat mense mekaar na kerk besoedel met donker, depressiewe en afbrekende praatjies oor die “toestand van ons land.”

Daar is egter een ding wat niemand wil sê nie. Dis so vanselfsprekend dat ek nie kan glo dat mense nie hulle vinger daarop plaas nie. Die ergste van alles is dat gelowige mense mekaar heel eerste hierop moet wys. Maar wandelgange van die gelowige wêreld is stil hieroor. Ek ook. ‘n Spreker herinner my toe ‘n paar aande gelede aan die eise wat Jesus aan ons stel.

Hierdie is daarom nie ‘n nuusbrief oor grondhervorming nie, en ook nie ‘n teologiese of politiese uiteensetting van hoe goed of sleg die saak tans hanteer word nie. Daar is inderdaad baie dinge in ons land wat uiters onwys en selfs immoreel hanteer word. Ek wil egter praat oor Jesus en die dinge wat Hý van ons verwag. Want hier is my probleem: Malema is ‘n vulletjie! Hy wil net ons grond hê. Jesus wil egter álles van ons hê! Jesus is baie gevaarliker vir ons rykdom, gemak en selfgeregverdigde materialisme as Julius. Jesus is uiters gevaarlik want Hy soek ons harte, geld, huise, drome, lewens, ma, pa, familie... álles! (Lukas 14: 25-33)

My probleem is dat ek nog weinig male gehoor het dat gelowiges hierdie element van die evangelie beklemtoon rondom daardie einste braaivleisvure. Lyk my meeste van ons volg ‘n Jesus wat na ons eie beeld geskep is: ‘n selfsugtige, materialistiese, veilige, kapitalistiese, nice Jesus wat eintlik niks van ons eis nie. Waarom ontstel een politikus ons so terwyl ons al jare lank ‘n Leier volg wat reeds alles gevat het?! Ons harte is tog nie meer verknog aan ons materiële dinge nie, maar aan Jesus alleen. Jesus is juis in die besigheid om ons los te maak van alle nuttelose dinge en ons styf aan Homself vas te maak. Trouens, toe ons die dag besluit het om Hom te volg, het ons aangesluit by ‘n unieke groep mense in die geskiedenis wat soms van alles beroof is deur die magtiges en regeerders van hulle tyd, ter wille van Jesus se naam. Ons het deel geword van die gemeenskap van mense wat lofliedere tot God sing terwyl ons voete en hande in blokke vasgemaak is. Ons sing binne-in ‘n stinkende en bedompige tronksel! Ons noem hierdie singende gemeenskap van mense die bruid van Jesus, die kerk!

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil 2:5-8).

Laat ons dus nie ontstel word deur die woorde van ‘n aardse politikus nie. Luister eerder fyn na die geritsel van die bladsye in die Bybel. Daar is ‘n Koning aan wie alles behoort en wat vrywilliglik alles opgegee het.

Sy kruis-eise aan ons is baie meer ontstellend!


bottom of page