Of jy het God en ander lief, of jy snuffel foute en sondes uit
top of page

Of jy het God en ander lief, of jy snuffel foute en sondes uit


Dis een ding om teen verkeerde dinge te wees, maar dis iets anders om regtig vir God te wees. Dit besef ek al hoe meer. Sommige godsdienstige mense is heeldag en aldag so besig om teen alles te wees wat verkeerd is dat hulle niks tyd meer oor het vir enigiets anders nie. Hulle ken sonde goed, maar hulle ken nie vir God ewe goed nie. Party mense het weer erekleure in foutvind met enigiets vanaf Eskom, die regering, die onderwys en die kerk… maar as jy vir hulle vra wat is die nuutste dinge wat God in die afgelope week in hulle eie omgewing gedoen het, dan sit hulle opgeskeep met ’n mond vol tande. Hulle het geen idee of enige verlore mense in hulle omgewing soos brandhoute uit die vuur geruk is nie. Of waar het Jesus se omgee kragtig grondgeraak het in hulle nabyheid tussen armes, hongeriges en afgeskryfdes nie. Nog minder het hulle vars, weeklikse getuienisse op hulle lippe van hoe hulleself hulle naaste op konkrete maniere gedien het. Hulle was veels te besig om nogmaals niks verkeerd te doen nie. Dis al.

Tereg sê Bill Creech: “There’s a war on between the people who are trying to do something and the people who are trying to keep them from doing something wrong.” Navolgers van die Here leef nie so nie. Ons eerste prioriteit is om ons Heer lief te hê en ander soos onsself. Ons as gelowiges se hoofroete is dié van liefde, nie dié van teen alles wees nie. Om God en ander lief te hê, skuif al ons aandag, tyd en energie na Hom en ander toe. Om teen alles wat verkeer is te wees, skuif weer al ons aandag soontoe. Kies asseblief opnuut waaraan en aan Wie jy jou lewe gaan wy!


bottom of page