Om met 'n sagte oog na ander te kyk
top of page

Om met 'n sagte oog na ander te kyk


Die skrywer, Dana Snyman, vertel onlangs op TV dat hy in die afgelope jaar deur 'n moeilike tyd gegaan het. Toe daar vir hom gevra is wat hy geleer het in hierdie tyd, het hy gesê dat hy geleer het om met 'n sagte oog na mense te kyk. Om 'n bietjie genadiger teenoor ander mense te wees.

Ons as mense veroordeel so maklik ander mense. Mense wat nie soos ons lyk, dink en praat nie. Mense wat in wêreldse terme dalk sondig en verkeerd optree.

In die fliek, Dominee Tienie, word daar eendag 'n lyk van 'n boemelaar op die kerk se stoep gevind. Hy het die vorige dag hulp gesoek by die kerk. Dit is egter myns insiens 'n metafoor vir die "lyke" wat ons as Christene soms agterlaat met ons veroordelende en soms selfgerigte houdings.

In Jesus se lewe sien ons hoe Hy met 'n sagte oog na mense gekyk het. Een van die veroordeelde misdadigers wat saam met Jesus aan die kruis gehang het, se in Lukas 24:42, "Jesus onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom." Jesus antwoord hom in vers 43: " Ek verseker jou, jy sal vandag saam met my in die paradys wees."

Ek dink ook aan die sagte oog waarmee Jesus na Saggeus gekyk het. Saggeus was 'n tollenaar en 'n bedrieër. Jesus het egter by hom gaan kuier en Saggeus en sy huisgesin het tot bekering gekom.

God se genade maak ons almal gelyk. God het nie witbroodjies of swartskape nie. Ons sondige mense verdien nie Sy liefde nie. Dis net genade wat Hy so vryelik uitdeel. Hy wil he dat Christene dit ook met mekaar doen.

Ons moet onthou dat daardie alkoholis, dwelmslaaf of gevangene 'n storie het. Ons kan hulle nie oordeel nie, omdat ons nog nie 'n myl in hulle skoene geloop het nie. Ons kan Christenskap dalk aantrekliker maak vir ongelowiges as ons met 'n sagter oog na hulle kyk.


bottom of page