Meer helde benodig
top of page

Meer helde benodig


Die wil voorkom asof die super-held beweging in Hollywood steeds voortbeur met hernude krag! Marvel se nuutste fliek het ‘n paar weke gelede verskyn met die titel van Captain Marvel. Die prent handel oor ‘n vroulike superheld wat baie duidelik ‘n belangrike rol gaan speel in die klimaktiese laaste Avengers fliek wat in April vrygestel word. Captain Marvel is dalk nie die mees opwindende van die superheld flieks nie en het heel moontlik nie aan al die verwagtings voldoen nie, alhoewel hy egter steeds baie kykbaar is. Die heel laaste toneel in die fliek het my veral opgeval.

Een van die hoofkarakters in al die Marvel flieks is Nick Fury, die administratiewe koördineerder van al die superhelde. Aan die einde van Captain Marvel, nadat hy weer bewus gemaak is van die euwel dinge in die wêreld wat die mensdom bedreig, uiter hy die volgende kort sinnetjie:

We need more...

Sy kollega vra toe:

More what? More Weapons? waarop Fury antwoord:

No, more heroes! Die wêreld beskik immers oor genoeg wapens. Trouens, ons kan die ganse planeet menige male vernietig met die hoeveelheid wapens wat verskeie lande oor die tye ontwikkel en versamel het! Wat ons méér nodig het is helde!

Helde gee hulleself vir ander mense. Nie alle helde het noodwendig superkragte nie. Ook dra hulle nie noodwendig duidelik herkenbare uniforms nie. Sommige helde is ma’s, onderwysers, prokureurs, huisvrouens, ekonome, akademici of huishulpe. Hulle het egter almal een ding in gemeen: Hulle offer hulleself op. Hulle sien mense se nood raak en baklei vir die swakkes en ander wat by tye nie vir hulleself kan skerm nie. Dis asof hulle liefde soms geen perke het nie. Hulle is opreg besorg oor hulle medemense en lê hulle lewens af. Hulle onderskei nie tussen swart, wit, ryk of arm nie. Hulle dien almal wat binne hulle invloedsfeer of vermoë lê. G’n wonder dat helde ons so inspireer nie!

G’n wonder dat ‘n arm Seun uit Nasaret van destyds tot vandag so baie mense inspireer het! Hy palm nog elke dag nuwe harte in omdat Hy gekom het om Homself te gee. Hy sê van Homself (Markus 10:45):

Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

Ons is losgekoop deur sy heldhaftigheid. Laat Hý ons inspirasie wees!


bottom of page