My eie klein Beloftebybel/Gebede-boek [resensie]
top of page

My eie klein Beloftebybel/Gebede-boek [resensie]


Dave Strehler. My eie klein Beloftebybel:Ontdek God se liefde vir jou deur die beloftes in sy Woord. My eie klein Gebede-boek: Ervaar God se seën wanneer jy met Hom praat en jou lewe met Hom deel. CUM. 2019

Hierdie twee veelkleurige en ryklik geïllustreerde hardebandboekies gaan kosbare leesstof vir talle Afrikaanssprekende kleingoed word. Dave Strehler, ‘n spesialis op die terrein van kinderbediening in die kerk, het ouers hiermee ‘n groot guns gedoen en ‘n nuttige hulpmiddel in die hand gegee. Ouer, as jy jou kind se geestelike vorming ernstig opneem, is dié boekies ‘n moet vir jou.

Die Beloftebybel vertel hoekom daar beloftes in die Bybel voorkom, elke keer met Skrifgedeeltes wat dit illustreer en ‘n mens direk aanspreek. God maak beloftes want Hy wil hê ons moet Hom vertrou, ons moet weet wat sy plan is en Hy wil hê ons moet geliefd voel. Dan kom beloftes aan die beurt wat wys hóé God is – dat Hy magtig en ewig en getrou is, dat Hy geduldig en genadig is, ensomeer. Die boekie maak ook ‘n onderskeid tussen algemene, spesiale en voorwaardelike beloftes, op ‘n wyse dat kleingoed dit gaan snap. Dan kom beloftes aan die beurt wat in Bybelse tye waar geword het voor die laaste helfte van die boek aan beloftes wat vir elke dag geld, bespreek word. Met die mooiste prente en volop gebede tussen-in, is dié boekie ‘n pragstuk.

Die Gebede-boek wat daarmee saam gaan, leer die kind wat dit is om met God te praat en maak ‘n onderskeid tussen lofprysgebede, vra-gebede, dankgebede, gesels-gebede, dringende gebede en gebede uit die hart. Elke “dagstukkie” begin met ‘n kort Skrifgedeelte, ‘n kort oordenking aan die hand daarvan, iets om te doen en sluit met ‘n gebed wat die kind kan bid. Veral treffend vir my is die “Iets om te doen”- of “Iets om te oordink”-gedeelte: in plaas van dink wie God is, skryf woorde op paper wat jou aan Hom laat dink met kleurpenne; soek vandag iemand wat alleen is en gesels met daardie mens; dink na daaroor of jou hart gereed is vir God se wysheid; of gebruik klei om ‘n potjie te vorm terwyl jy daaraan dink hoe God jou vorm.

Innoverend en in die idioom van die kind, terwyl Dave se doel is om kinders uit vormgodsdiens en vormgebede te ruk en in ‘n persoonlike verhouding met die Here te stel. Na my mening slaag hy uitmuntend daarin. Elke kind wat dié boekies in die hand gaan kry, gaan anders lyk en optree.


bottom of page