Kultuur-bediendes vir Jesus
top of page

Kultuur-bediendes vir Jesus


In my kinderjare het party kerklike uitdrukkings vir my na Grieks geklink. Onlangs dink ek weer hieraan toe ek ’n strokie lees van Hagar en sy vriend Eddie. ’n Prediker loop by hulle verby en roep uit ‘Repent!’ Hagar wonder dan hardop wat dit beteken. Toe sê vakerige Eddie vir hom: “I think he wants us to repaint the house!” ‘Repent’ word toe skielik ‘repaint!’ Miskien gebeur sulke kulturele misverstande ook met ons. Ons as navolgers van die Here moet die taal en die kultuur van ons dag ken. Anders gaan niemand ons ooit reg hoor nie. Of ons vir hulle nie. Paulus was ’n meester in die reg-lees van die kulture van sy dag. Nie net was hy multi-talig nie; hy was ook goed op hoogte met die inhoud van die verskillende kulture waarbinne hy gewerk het. Paulus skryf juis in 1 Korintiërs 9 dat hy vir die Jode soos ’n Jood geword het, en vir die Grieke soos ’n Griek. Nee, hy was nie ’n verkleurmannetjie nie; hy was ’n dienskneg van Christus. Sy rede is duidelik; hy wou mense aan Jesus bekendstel. Hy het mense binne hulle eie kulture Jesus-waarts gedien! Dis ons roeping ook.


bottom of page