Ken die verskil tussen besigwees en hard werk op die regte manier
top of page

Ken die verskil tussen besigwees en hard werk op die regte manier


As jy mense wil omkrap, dan moet jy vir hulle vertel hoe besig jyself is. Iemand sal blitsvinnig antwoord: “dis nog niks; jy moet my vol program sien.” Almal is besig. Dis volgepropte dagboeke, vergaderings byeenkomste en aktiwiteite waar jy kyk. Party mense is so besig dat hulle niks konstruktief gedoen kry nie! Hulle skarrel in duisende rigtings rond om almal tevrede te hou. Hulle dagboek is net vol opdaag-geleenthede. Aan die einde van elke dag kan hulle sê ek was toe hier, daar en doer. Ek het myself morsdood vergader. Maar die vrug hierop? Wel, dis ’n ander storie.

Moenie so dood-besig wees nie. Besigwees is nie ’n Bybelse opdrag nie. O ja,- harde werk is ’n Bybelse voorskrif (2 Tessalonisense 3:6-13). Daar’s ’n verskil tussen besigwees en harde werk. Besigwees maak jou dagboek vol, maar harde werk is om jou roeping uit te leef deur jou eie omstandighede en jou werk tot ’n roeping om te skakel. Dis om alles waarmee jy besig is te omskep in aktiwiteite vir die Here. Besigwees egter is om ander mense se roeping namens hulle te probeer uitleef. Of om jou eie lewe oorvol te maak met dit wat op ander se agendas is. Besigwees is om ander se dagboeke en planne ter wille te wees. Dan gaan jy uitbrand.

Doen dit wat jy doen deeglik. Gordon B. Hinckley sê: “Without hard work, nothing grows but weeds.” Doen dit vir die Here en nie net om mense tevrede te hou nie (Kolossense 3:23). Sorg dat ander deel in die vrug van jou arbeid. In Handelinge 20:35 sê Paulus hy het hard gewerk sodat die swakkes iets het om te eet. Leer by hom. Werk tot eer van die Here en tot voordeel van ander. Dan werk jy reg. Harde werk steel nooit jou energie as dit gebeur binne die raamwerk van jou roeping nie. Werk en leef vir die Here, dan sal jy nooit doodbesig of doodmoeg wees nie.


bottom of page