Tussen wapens en medisyne
top of page

Tussen wapens en medisyne


Iemand wat Auschwitz gedurende die Tweede Wêreldoorlog oorleef het vertel haar laaste gesprek met haar broer was toe nie haar beste nie. Onderweg soontoe as gevangenes in ’n trein het hy sy skoene verloor. Sy was kwaad toe sy dit agterkom en het dit hardop vir hom gesê. Na hulle aankoms in Auschwitz het sy haar broer egter nooit weer gesien nie. Toe het sy besluit dat al haar woorde, veral teenoor familie en vriende, moet staande bly as goeie laaste woorde indien sy nooit weer ’n kans sou hê om met hulle te praat nie. Dit klink vir my soos Spreuke se wysheid. Oor en oor vertel hierdie wonderlike wysheidsboek vir ons dat ons ons woorde versigtig moet kies en reg gebruik. Woorde is wapens. In dwase se monde kan dit baie groot skade aanrig. Oorhaastige woorde, snydende taal, onwaarhede, beledigings - sulke taal is regtig lewensgevaarlik. Maar aan die ander kant is woorde ook genesende medisyne. In wyse mense se mond is woorde propvol omgee, deernis en eerlikheid. Dit praat mense nader aan God en nader aan ander. Praat asseblief wyse woorde in hierdie dae dat goeie woorde so skaars is.


bottom of page