Leef luiheid flou
top of page

Leef luiheid flou


Ledigheid is die duiwel se oorkussing. So lui die ou Afrikaanse spreekwoord. Ek weet nie wat is ’n oorkussing nie, want ekself het net ’n kopkussing. Maar ek weet darem ledigheid is ’n ouer Afrikaanse woord vir voltyds rondsit en niksdoen - luiheid, met ander woorde. Luiheid is gevaarlik, want dan begin jy droogmaak. Of jy fokus op ander se foute. Om die slagoffer van permanente luiheid te wees, is sinoniem met dwaasheid. Spreuke 26:13 deel juis van een van die ‘slim’ verskonings van dwase om niks te doen nie - hulle doen niks omdat hulle dink daar’s al weer ’n leeu op straat. Moenie hulle voorbeeld navolg en dit agterna doen nie. Volg eerder Prediker 9:10 se roete deur elke dag met toewyding dit te doen wat jou hand vind om te doen. Doen elke dag iets konstruktief tot voordeel van die Here en ander. Moenie net rondsit en wag op beter dae nie. Skep daardie einste beter dae self. Bemoedig iemand. Deel ’n beker koue water elke dag uit. Dra ’n las vir iemand wat hulle nie self kan dra nie. Bid vir ’n persoon in nood. Leef luiheid flou tot eer van die Heer.


bottom of page