Facebook-bekgeveg
top of page

Facebook-bekgeveg


Sosiale media-gebruikers kry daagliks te doen met bekgevegte op Facebook. Die volgende is maar ʼn enkele voorbeeld wat ek verlede week teëgekom het:

ʼn Vrou plaas ʼn foto van twee goedversorgde Yorkie-hondjies. Sy skryf: “Ek verhuis binnekort Kaap toe. Baie, baie hartseer maar ongelukkig kan ek my dogtertjies nie saamvat nie.” Sy vra dan of daar iemand is wat moontlik vir hulle ʼn goeie huis kan gee.

Daar is bykans ʼn duisend kommentare op die post en dit varieer van mense wat belangstel, dié wat haar sterkte toewens en dan: Die wat haat spoeg omdat sy die honde weggee.

Een skryf: “She is heartless!!! I actually pray these dogs find a BETTER human being cos she certainly doesn’t deserve them and then there is always KARMA... You fill me with disgust and I don’t care who the @#$% [skrywer se weergawe van baie kras woorde] you are!!!”

Ek krimp ineen as ek hierdie woorde lees! Wildvreemde mense reageer op wildvreemde mense sonder om te dink wat hulle sê.

Ken ons die omstandighede? Het ons kennis van waardeur daardie mens gaan? Ken ons haar hartseer? Haar pyn en lyding? Weet ons hoe haar gesondheid lyk? Of haar finansiële omstandighede? Het sy moontlik onlangs trauma beleef?

Of kyk ons deur ʼn wêreldse, ongenaakbare bril na haar?

Luister ons of hoor ons maar net? Haat ons of wys ons liefde? Raak ons woedend of toon ons begrip? Toon ons genade soos wat Christus aan óns betoon het? Hanteer ons ander sagkens of met harde, lelike woorde?

En in gevalle waar ons wel die omstandighede ken?

Ja, mense het almal gebreke en ons stem nie altyd saam met alles wat ander doen nie. Soms het ons kennis wat ʼn ware beeld gee op omstandighede en baie maal is dit nie ʼn mooi beeld nie.

Ek weet dit is meer vrae as antwoorde. Dit is dieselfde vrae wat ek myself afvra oor my eie reaksies. En dit is dalk nodig dat elkeen oor hierdie dinge besin.

Efesiërs 4 gee riglyne vir die nuwe lewe: “Watch the way you talk. Let nothing foul or dirty come from your mouth. Say only what helps, each word a gift.” (The Message)


bottom of page