Jesus se mensheid is nie genoeg nie
top of page

Jesus se mensheid is nie genoeg nie


Van die vroegste tye af het die kerk van Jesus Hom gevolg as beide God sowel as mens. Hierdie belangrike waarheid aangaande Jesus is bevestig deur, onder andere, ons vroegste Bybel skrywers soos Paulus, asook die eerste kerkvaders soos Clement van Rome, Polikarpus en Irenaeus. Dis egter asof die kultuur van vandag skaam geraak het vir ‘n Jesus wat ook Goddelik is. Sommige mense wat skepties is oor geloof beweer dat hulle baie meer identifiseer met ‘n menslike Jesus wat nie oor Goddelike eienskappe beskik nie. ’n Meer menslike Jesus klink nie so outokraties nie en mense beweer dat so ‘n Jesus baie nader beweeg aan hulle eie menslike belewenis-wêreld. Ons leef immers in ‘n demokratiese wêreld wat deur die postmodernisme beïnvloed is en waar ‘n Goddelike, outoritêre Jesus nie meer lekker inpas nie.

Die teendeel sou egter geargumenteer kon word. Ek dink dis juis belangrik om te erken dat ons in werklikheid ‘n menslike sowel as Goddelike Jesus bróódnodig het. Dis interessant hoedat populêre denke soms vir ons ander antwoorde gee aangaande die behoefte van die mens as wat sommige skeptici soms sou wou erken. So het GK Chesterton en CS Lewis byvoorbeeld geglo dat die stories wat ons onder mekaar vertel, baie meer as bloot stories is. Dit vertel vir ons iets van wie mens is en wat sy werklike behoeftes is. Wanneer ons byvoorbeeld die super-held flieks oordink wat deesdae so gewild is dan kommunikeer dit die omgekeerde as wat sommige skeptiese mense beweer oor die gryp onder sommige na ‘n bloot menslike redder. Meeste super-helde is inderdaad mense, maar hulle is meestal ook méér as mense. Hulle beskik oor super-vermoëns waarmee hulle mense kan red en help. So kies ons ‘n Superman wat mens sowel as bomenslik is. Ons sien hoe dat Thor sy godheid tydelik neerlê en aarde toe kom as gewonde mens. Hy raak in sy mensheid natuurlik lief vir die mense maar uiteindelik kon hy ook nie die mense help sonder om sy god-magte terug te kry nie. Selfs in die onlangse DC-comics-fliek woord daar gepraat daarvan dat Aquaman die ideale persoon is om die mense van die land te versoen met die mense van Atlantis (seë mense). Waarom? Omdat Aquaman ‘n aardse pa het en ‘n moeder uit Atlantis. Hy beskik dus oor eienskappe van beide wêrelde. Filosowe reken dat hierdie huidige super-held fenomeen veel openbaar as bloot ‘n populêre kulturele bevlieging van die massas. Dit ontbloot ‘n diepgewortelde behoefte na dinge soos:

  • die openbaring dat die lewe ‘n stryd is tussen goed en kwaad, soos uitgebeeld in hierdie stories,

  • dat die bose magte soms méér is as wat die mens in sy blote menslikheid kan hanteer,

  • erkenning dat ons as mense onsself dus nie kan help of red van sulke sterk magte nie,

  • ‘n redder met wie ons wel kan identifiseer as mense, dit wil sê iemand wat menslike emosies openbaar, en wat ook op ‘n manier kwesbaar kan wees,

  • ‘n redder wat méér is as ons en wat daarom die mensdom kan red van homself, na ‘n plek kan heen lei waar ons nog nie vantevore was nie (dink byvoorbeeld aan die temas in Man of Steel) en waar ons nie op ons eie kan kom nie,

  • ‘n redder wat kom uit ‘n “ander wêreld” as waaraan ons gewoond is.

So vra ek dus dikwels vir diegene wat ‘n Goddelike Jesus wil vermy, wat gebeur dan nadat daar nou met ‘n bloot menslike Jesus geïdentifiseer is. Wat dan? Waarheen kan hierdie bloot een-dimensionele, menslike Jesus ons lei? Hoekom sal ons sy voorbeeld volg indien hy maar net een van ons is en oor geen bomenslike insigte of magte beskik nie? Waarom sal ons hom enigsins ernstig opneem indien hy ons nie kan neem na ‘n beter wêreld of verstaan van onsself en God nie?

Ons blyk dus inderdaad ‘n kwesbare Redder nodig te hê wie se wonde ons herinner dat Hy ons lief het. Sy kwesbaarheid herinner ons ook daaraan dat Hy met ons lyding identifiseer, en dat Hy ons sonde en swaarkry op Homself geneem het.

Netso nodig het ons egter ‘n Redder wat méér is as ons. Ons het ‘n Redder nodig voor wie ons soos Tomas op ons knieë kan neerval en sê: “My Here en my God!” Ons het ‘n Redder nodig wat – in teenstelling met die gewilde super-held-verhale en ander mites – werklik die geskiedenis binnegekom het. Slegs so ‘n Redder kan die dood oorwin, die wêreld heel maak en die mens red van homself. Slegs so ‘n Redder kan ons teruglei na ‘n helende, betekenisvolle lewe wat verby die dood strek tot in die ewigheid.

Jesus is so ‘n Redder.


bottom of page