Jy is kosbaar [resensie]
top of page

Jy is kosbaar [resensie]


Die skrywer van dié interessante boek is ‘n leier in ‘n Amerikaanse kerk waar sy met die sang en aanbidding werk, Bybelstudieklasse aanbied en graag van haar verhouding met die Here getuig. In studies wat oor ses weke strek, elk met vyf studies, doen sy dit ook. Sy is entoesiasties oor die feit dat sy ‘n vriend van die Here is en deel dit graag met jou dat Hy ook jou vriend wil wees.

Laura vertel dat mense wegkruipertjie vir verskillende redes speel. Eers is dit as ‘n speletjie maar later kan dit gebeur dat ‘n mens wegkruip omdat jy bang is dat jy ontbloot en uitgevang sal word. En dit is waaroor die boek gaan: vir mense wat bang is om ontbloot te word, is daar die boodskap dat God hulle wil sien, vind, aanvaar, verstaan, aanspoor en liefhê.

Die studie handel oor hoe ʼn mens by die punt beland het dat jy wegkruip vir die lewe en ander mense omdat jy seergekry het (en seergemaak het). Wat nodig is, is dat ons verstaan wie betrokke is in die speletjie wat ons speel en wat elkeen se rol daarin is. Genadiglik eindig die Bybel nie by ʼn beskrywing van die werklikheid van ons lewe nie. Dit vertel ook hoe God ons vind, en in ʼn gemeenskap plaas wat ons aanspoor om uit ons wegkruipplek te kom.

Die boek handel oor geestelike gemeenskap, en geestelike gemeenskappe en die belangrike rol wat dit in ons lewe vervul. Eers wanneer jy dit verstaan, kan jy begin om op ʼn hoër vlak te leef. Die skrywer moedig elke leser aan om saam met die Heilige Gees deur die studies te werk met die Bybel in die regterhand omdat dit die Here alleen is wat ʼn mens kan bemagtig en aanmoedig om te groei en te verander. Dit is Hy wat kleur by die prentjie voeg waar woorde te kort skiet omdat Hy jou liefhet en saam met jou deur die lewe stap.

Wat ek in die boek nuttig vind, is dat dit jou aanmoedig om elke week een of twee belangrike teksverse te memoriseer met die doel om deur die dag dit as bakenpunte te gebruik om die studie te laat grondvat in jou lewe. Aan die einde van elke week is daar ook ʼn afdeling, Waarheid, leuens en aksie, wat kyk na ʼn primêre leuen wat ons vir die waarheid moet verruil en ʼn geleentheid vir ʼn aksiestap om ons nader te bring om te leef as mense wat gevind is.

ʼn Ideale reisgids vir gelowiges wat dit saam met ʼn joernaal wil gebruik, en nie slegs vir vroue nie.


bottom of page