Van storm tot stilte – my pad saam met Jesus
top of page

Van storm tot stilte – my pad saam met Jesus


Ná die slegte nuus van Johannes die Doper se dood, en ná die geestelike, emosionele en fisiese output van die “piekniek” vir meer as 5000 mense, stel Jesus vir my die voorbeeld: Hy gaan eenkant toe om stil te word en te bid. Hy wat die Seun van God is, vind dit nodig om Hom af te sonder en te bid.

Baie van ons het die nuwe jaar binnegestap, net om te ontdek dat die uitdagings eenvoudig net te groot is. Die pas het reeds geweldig toegeneem, die druk onhanteerbaar geraak.

In ons familie het ‘n nuwe baba opgedaag en die ouers se paar maande van ouerskap-verlof het tot ‘n einde gekom. Met die aanpassing wat die nuweling se behoeftes vereis, en albei ouers wat teruggaan werk toe, neem die druk by die dag toe.

‘n Ander familie weer, moet die nuus hanteer dat hulle jong volwasse kind besluit het om ‘n geslagsverandering te ondergaan. Ook in hierdie geval is dit feitlik onmoontlik om op die water te loop terwyl hierdie lewenstorm om hulle woed.

So kan die een storm na die ander kom: finansies, gesondheid, of dalk ‘n motorkaping.

In so ‘n storm sê Jesus: “Moenie bang wees nie.” En wanneer ek nog halfhartig probeer uitreik na Hom, nooi Hy weereens: “Kom,” en Hy help my op wanneer ek sink of struikel – en stap saam met my!

Jesus, wat self ook druk en krisis beleef het, wys vir my hoe om dit te hanteer: om eenkant te gaan en my hart in gebed by my hemelse Vader uit te stort.

As ek saam met Jesus stap, sal ek ook saam met Hom eenkant toe gaan om stil te word en te bid. – Rai-Me


bottom of page