Die krag kom van binne af
top of page

Die krag kom van binne af


Wel, ‘n classic, bly eenvoudig ‘n classic! Ek dink weer die ander dag aan die fliek Chariots of Fire, wat die Oscar in 1981 gewen het vir beste rolprent. Meeste van ons sal onthou dat die fliek die storie vertel van twee atlete, Eric Liddell en Harold Abrahams. Beide van hulle het goue medaljes gewen tydens die 1924 Olimpiese Spele. Liddell – wat na die Spele ‘n sendeling geword het na Sjina – het reg deur die prent baie daarvan gemaak dat geloof soos ‘n wedloop is, soos wat Paulus ook beweer. Tydens die heel laaste klimaktiese wedloop in die fliek, gee die regisseur vir mens ‘n kykie in die gedagte-wêreld van Liddell terwyl hy hardloop. Terwyl hy dus die finale wedloop hardloop oordink op die baan hierdie belangrike vraag:

Where does the power come from to see the race to its end?

Deur die hierdie vraag probeer hy nie spekuleer oor of die krag vir ‘n wedloop byvoorbeeld van God af kom of van mense af nie. Nee, in die rolprent is dit op hierdie stadium alreeds duidelik dat Liddell weet sy krag kom van God af. Agter die vraag sit eerder die praktiese implikasie: waar doen God sy mees primêre werk ten opsigte van ons as sy kinders? Hoe vorm God ons na sy wil? Hoe kweek God die eienskappe – soos karakter, volharding en uithouvermoë – in ons sodat ons nie net ‘n fisiese wedloop nie, maar ook die geestelike wedloop met vrug kan voltooi? Maar dan antwoord Liddell die vraag vir homself:

From within.

Alles begin in jou binne-wêreld. Dis waar God begin om jou te vorm. Selfs al die uiterlike dinge wat met jou gebeur, word verwerk in jou innerlike wêreld: die wêreld van gedagtes, gevoelens en idees. Dít is waar jy dink oor God en die lewe. Dís waar jy stry teen die bose, sonde en negatiewe emosies. Jou binne-wêreld is waar jy dink oor jou karakter, oor die vrug van die Gees en waar jy leer om te bid. Dís waar jy kan afskakel van die lawaai van skares en die nek-breek-lewenstempo wat ons almal elke dag die hoof moet bied.

Dis waarom Jesus die gewoonte gehad het om gedurig te verdwyn, weg van mense af. In Matteus 14 sien ons hoedat Hy gehoor het van die dood van Johannes die Doper. Sy reaksie? Hy verdwyn, gaan eenkant toe om alleen te wees. Het hy gebid? Heel moontlik. Maar die punt is dat Hy dit innerlik gaan verwerk het. Net voordat Hy sy dissipels kies, gaan Hy eenkant toe om die heel nag te bid. Markus 6 vertel verder vir ons dat toe die mense te veel geword het, het Hy Homself onttrek na ‘n stil plek toe. Die werk was nog nie klaar nie. Nee, die mense het nog tou gestaan met hulle siektes, vrae, eise en behoeftes. Maar Jesus moes weg, want…

The power comes from within.

In Lukas 5: 15-16 lees ons:

Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

Iemand wat ‘n verskil wil maak in hierdie stukkende wêreld moet juis soms wegkom van die einste wêreld af. As jy die wêreld wil help kan jou denke nie gevorm word deur die wêreld nie. Jou krag en perspektief moet van iewers anders af kom. Indien jy mense wil help moet jy juis soms wegkom van daardie selfde mense, om seker te maak dat God jou denke vorm en dat jy nie gevange geneem word deur die opinies en pyne en eise van die skares nie. Nee, ons is nie celebrities nie. Ons glo nie die stemme en opinies van die massas nie. Dis God se stem wat aan ons lewe gee. Daarom volg ons Jesus. Hy alleen het die woorde wat lewe gee.

Ons hoor sy stem natuurlik soms wel in die woorde van ander mense, in flieks, die media en goeie literatuur. Ons kan Hom oral hoor want Jesus se voetspore en vingerafdrukke is oral te vind. Maar ons kan net sy stem suiwer hoor wanneer ons eenkant toe gaan. Ons hoor Hom die beste wanneer ons in afsondering diep nadink, bid en mediteer oor die einste stemme en die lewe in die algemeen. Jesus lei ons die helderste vanuit ‘n diep persoonlike binnewêreld wat getemper is deur sy Woord en Gees.

Daarom dat ons ook gereeld – soos Jesus – uit die gesigsveld van mense en skares moet verdwyn. Ons moet ons binnewêreld oppas en bewaar en voed met lewe want…

The power comes from within.


bottom of page