top of page

Maak jou rug toe!


Griekse soldate het altyd in pare die oorlogsone binne gegaan sodat hulle, wanneer hulle in ‘n aanval betrokke raak, met hul rûe teen mekaar kon veg. Sodoende het hulle dus mekaar se blinde kante gedek. Dis waar die woord, “Parakleet”, wat soms vir die Heilige Gees gebruik word, vandaan kom.

Kinders van God is elke dag in ‘n oorlogsgebied. Dit vertel Paulus ons wanneer hy sê dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen magte wat groter as ons is. Juis daarom kan ons nie een dag sonder ons Gevegsmaat, die Heilige Gees, aandurf nie. Wanneer ons dit doen, is ons rugkant – ons mees weerlose kant – wawyd oop aanvalle van Satan!

Maak elke oggend, voor jy jou dag binnegaan, seker dat jou Oorlogsmaat saam met jou die dag ingaan. Verklaar jou afhanklikheid aan Hom, gesels deur die dag gereeld met Hom, nooi Hom in jou leefwêreld in en deel jou gedagtes met Hom.

Omring jou elke dag met die wapenrusting van God en neem die Gees saam op jou pad. Wanneer die aanvalle kom, sal jou rug gedek wees. En jy oorwin.

Heilige Gees, dankie dat ek nie die lewe alleen hoef aan te durf nie. Dankie dat U my van alle kante beskerm. Doen dit asseblief vandag. Nee, élke dag asseblief.


bottom of page