Wenners vir Jesus [resensie]
top of page

Wenners vir Jesus [resensie]


CUM en Christian Art doen Suid-Afrikaanse Christengelowiges ‘n enorme guns met die nuttigste boeke wat gerig is op kinders en so gedruk is dat dit kinders se verbeelding aangryp. Hier het jy weer so ‘n boek, geskryf deur ‘n egpaar met ‘n gewaardeerde en bewese kinderbediening (alhoewel Johan se veelsydigheid nie slegs daartoe beperk is nie). Daar is 101 dagstukkies wat saam gesnoer word deur die wete dat God baie lief is vir kinders, dat sy hart vir hulle brand. En dat elkeen van hulle, ongeag waar hulle bly en wat hulle omstandighede is en hoe oud hulle is, ‘n plek in sy koninkryk het en ‘n doel op aarde. Hulle het net soveel waarde vir Hom as grootmense en hulle is ook net so bruikbaar vir Hom.

Die dagstukkies is kort, kragtig en op die man af, gebaseer op ‘n verhaal in die Bybel, met volop ruimte vir self-doen. En dit sluit elke keer met ‘n teksvers wat saamvat wat die dagstukkie wil sê. So kry die kind nuttige inligting oor die verhaal maar lees dan ook self die essensie daarvan aan die einde.

Die boek is verbeeldingryk gedruk met ruimte om self die verhaal te ontdek. Dit stel die kind voor die vraag: hoe kan ek so leef dat almal kan sien hoe lief ek vir Jesus is? Wanneer die kind die waardes gaan uitleef wat gedemonstreer word, gaan hy of sy hulle lig vir Jesus laat skyn en bydra om van hulle wêreld ‘n mooier en beter plek te maak.

Die boek is ingedeel in afdelings wat oor verskillende sake handel: jy kry ‘n deel oor die kinders waaroor die Bybel vertel, soos Moses, Dawid, Samuel, Mirjam en Jesus. Dan leer jy oor Bybelkarakters soos Josef, Gideon, Elia, Daniël, Saggeus, Maria en Paulus. Daar is ook ‘n deel met verhale van mense wat nie in Bybelse tye geleef het nie maar wie se lewens demonstreer waaroor Bybelse verhale gaan. Jy leer verder meer oor God, hoe Christene moet optree, oor gelykenisse wat Jesus vertel het, van ander mense en moeilike tye, en hoe om tyd saam met God te spandeer.

‘n Mens kan dié boek met die grootste vertroue in ‘n kind se hand plaas. Die skrywers het hulle werk deeglik gedoen en die gehalte van hulle Bybelkennis kom telkemale duidelik na vore.

‘n Pragtige, nuttige boek wat elke kind gaan geniet, so vanaf ses jaar tot twaalf of dertien.


bottom of page