Die Gees doen nie óns werk nie!
top of page

Die Gees doen nie óns werk nie!


Gee julle lewens eerder vir God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag ‘n splinternuwe lewe op julle. Lukas 12:21b

Iemand het eenkeer gesê: God sorg vir die voëls, maar Hy gooi nie net kos in hul neste nie!

Die Gees van God kan en wil alles vir jou doen: Hy kan jou ondersteun, inspireer en bemoedig. Tog kan Hy niks daarvan doen sonder dat jy Hom toelaat en jouself oopstel vir sy werking nie. Net so kan die gee jou onderrig, leer, lei en al die nodige wysheid in die wêreld gee mits jy bereid is om die Woord en die uitleg daarvan te lees en te bestudeer. Die Gees kan nie in ‘n dooie hart werk of die Skrif vír jou lees nie.

Jesus kon siekes genees as hulle bereid was om na Hom toe te kom, Hy kon water in wyn verander mits die manne die leë kanne met water gevul het en Hy kon mense laat sien net dit wat hulle wou sien. God kan wondere deur my en jou doen, as ons ons verantwoordelikheid nakom: as ons sy Gees en die werking daarvan in ons lewens toelaat en tyd maak om sy Woord ons eie te maak.

Om die Woord regtig te bestudeer, is ’n dissipline waarin ons tyd maak om God se waarhede happie vir happie in te neem. Eers wanneer ons die Skrif inneem, kan die Gees ons help om dit te interpreteer mettertyd daardeur te leef.

Here, help my om mý deel van ons ooreenkoms na te kom.


bottom of page