Geen ‘McJesus’ nie, maar Jesus die Gekruisigde
top of page

Geen ‘McJesus’ nie, maar Jesus die Gekruisigde


Toe word dit wêreldnuus. Ek praat van daardie sogenaamde ‘McJesus’ beeld in Haifa se museum, waar Ronald McDonald aan ‘n kruis hang. Nadat Arabiese Christene betogings daar van stapel gestuur het, het baie Christene regoor die wêreld boikot-aksies teen McDonalds bepleit. Ongelukkig het hulle nie hulle feite behoorlik nagegaan nie. Die gekruisigde McDonalds figuur is die skepping van ‘n Finse kunstenaar wat die kitskos-kultuur en vervlakte godsdiens aan mekaar probeer verbind op ‘n uitdagende manier. Mense se uitverkooptheid aan ‘consumerism’ is blykbaar vir hom die nuwe godsdiens. McDonalds het hulleself egter van hierdie beeld gedistansieer. Daniel Padiachy, hulle hoof van bemarking en kommunikasie in Suid Afrika sê hulle is op geen manier by hierdie kontroversiële kunswerk betrokke nie.

Hoe moet Christene in sulke situasies reageer? Wel, ons rolmodel is ons Here Jesus en sy optrede aan die kruis. Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy gely het, het Hy nie links en regs sy vyande gedreig nie (1 Petrus 2:23-24). Jesus wys hier aan die kruis vir ons hoe ons moet reageer in sulke situasies van lyding, spot en verguising (1 Petrus 2:21). Ons staan daarom juis uit (en op!) vir Hom as ons anders optree as ander mense wat net woede, terugkry en protes ken wanneer hulle te na gekom word. Ons weet ook saam met Paulus in 1 Korintiërs 1:18 die kruis is dwaasheid vir buitestaanders, maar vir elkeen van ons wat glo, is dit die krag van God. Die kruis is geen neutrale simbool nie (1 Korintiërs 1:23). Dit is egter net Jesus se kruis wat ons al die pad dra terwyl ons ook Syne dra.

Nooit mag ons die kruis probeer afkoel tot godsdienstige kamertemperatuur nie. Leonard Sweet skryf juis gedurende die afgelope week op Facebook oor hierdie episode: “Regardless of what the artist intended, this one image captures in satiric form the kind of “Jesus” being peddled in many of our churches today---the kind of Jesus hanging on the cross around some people’s necks, the kind of Jesus hanging and killing the church. This Jesus is not a “man of sorrows acquainted with grief” Savior; it’s a meet-my-needs now Savior and have-it-your-way theology.”


bottom of page