Snowy en sy maats Boek 2 [resensie]
top of page

Snowy en sy maats Boek 2 [resensie]


Angus Buchan. Snowy en sy maats Boek 2 / Snowy and his friends Book 2. Christian Art Kids. 2018

Min mense weet nie wie Angus Buchan is nie. Hy is ‘n boer en evangelis wat tienduisende Suid-Afrikaanse mans oor alle grense heen se lewens positief beïnvloed met sy evangelieboodskap, sodat mans teruggaan huis toe van sy naweekkampe regoor die land en as priesters en profete leef. Maar hy is ook by kinders ‘n bekende en gewilde figuur. Snowy en hy verskyn elke week op die televisieprogram Grassroots en kinders van alle ouderdomsgroepe geniet hulle geselskap.

Snowy is ‘n beroemde perd wat graag saam met kinders kuier. Hy bly op oom Angus se plaas en is vriende met al die ander diere wat ook op die plaas bly. En hy wil graag elke kind voorstel aan sy vriende, soos Rooies, Betsy, Tiger en Samuel. Snowy is egter nie slegs iemand wat graag met kinders kuier nie. Hy luister ook baie graag na oom Angus wat vir hom en sy maats van Jesus vertel. Oom Angus lees graag vir hulle uit die Bybel en leer hulle die lesse wat jy daarin kry, en wat jou lewe verander. Terwyl die maats op die plaas besig is, leer elke kind saam wat saak maak: hoe om Jesus se wil te doen en sy liefde uit te leef.

In Boek 2 het jy nog elf stories wat handel oor gehoorsaamheid, skape wat verlore raak, kinders wat sleg voel oor hulleself, hane wat hardkoppig en henne wat gelukkig is, slegte vriende, en skilpaaie en hase. Maar dis nie net stories nie. Die stories is so geskryf dat pappa en mamma dit kan lees maar dat groter kinders dit vir hulleself en vir kleiner boeties en sussies ook kan lees. En dan is daar volop pret om deel te neem in die storie, met vrae en voorstelle en opdragte wat die kind die verhaal eerstehands laat beleef.

Dis pragtige, hardeband volkleurboeke wat duursaam is en met sketse wat elke kind, seuns en dogters, se verbeelding sal aangryp. En dis opbouende verhale wat waardes vaslê maar dit stel ook kinders bekend aan die plaaslewe.

Geluk aan CUM met pragtige kindersboeke, en dankie dat dit in Afrikaans en Engels beskikbaar is.


bottom of page