Jou dieet is nie net wat jy eet en drink nie...
top of page

Jou dieet is nie net wat jy eet en drink nie...


So aan die begin van die nuwe jaar, het ek ook talle voornemens. Na die luilekker Desember-vakansie, wil ek graag gesonder eet en ook hard oefen. Ek besef egter dat my dieet nie net is wat ek eet en drink nie, ek moet ook na my geestelike dieet kyk. Ek moet my gees intensioneel voed met dinge wat dit gesond sal hou.

So 'n ruk gelede lees ek die volgende: “Your diet is not only what you eat. It's what you listen to, what you read, the people you hang around with.” Ons moet dus nie net versigtig wees met dit waarmee ons ons liggame fisies voed nie, maar ook waarmee ons onsself emosioneel en geestelik voed.

As Christen het jy 'n invloedsfeer by jou huis, werksplek en vriendekring. Jy kan hierdie mense positief of negatief beïnvloed met jou geestelike dieet. Dink maar aan daardie fliek wat julle saam as gesin kyk en wat jy voel julle moet liewer afskakel. Is jou lewe en jou geestelike dieet 'n goeie advertensie vir Christenskap? Besef jy dat jou lewenswyse vir jou kinders, vriende en kollegas soos 'n Bybel kan wees?

Ek wil nou nie moralisties wees en se jy moenie meer jou gunsteling tydskrif lees of na jou gunsteling sepie kyk nie. As jy naby aan die Here leef, sal die Heilige Gees jou ongemaklik laat voel oor 'n boek wat jy lees of oor 'n fliek waarna jy kyk.

'n Mens moet jouself afvra of jy jou geestelike tenk gereeld vol maak, deur stiltetyd, geestelike boeke en geestelike praatjies. Praat jy en jou vriende gereeld oor die Here? Iets wat my nogal inspireer en rustig maak, is om soggens as ek werk toe ry na geestelike musiek te luister.

Mag ons onsself in 2019 voed met die brood waarvan ons lees in Johannes 6:35: “Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie.”


bottom of page