Rol die lewe jou rond?
top of page

Rol die lewe jou rond?


So af en toe spoel ʼn onbeskadigde seekastaiing-skulp op die strand uit.

Ek staan so met die wonderwerk in my hand en bewonder die perfeksie, die manier hoe die Skepper die verskillende skakerings van groen met ʼn verfkwassie in perfekte rye opgeverf het. Die gaatjies is fyner as ʼn speld se punt en die wande papier-dun – broos en breekbaar.

En ek wonder hoe dit so perfek-bewaar op die strand kon uitspoel tussen die klipharde rotse uit.

Dit lei my gedagtes na my eie lewe, na die moeilike jaar wat verby is en die belofte wat die toekoms inhou:

Ek is ʼn seekastaiing wat knus, gemaklik, veilig in die voue van ʼn rots lewe. Op ʼn dag kom Springgety in en daarmee saam ʼn gewelddadige storm wat die kuslyn in sy fondamente skud. Die kragtige water rol my uit my gemaksone uit en die golwe rol my rond. Ek skuur deur die sand en teen die rotse vat. Onderstebo en ek weet nie of ek kom of gaan nie.

Die mens is broos, glad nie opgewasse teen die vloed, die wind, die kragtige golwe nie. As die lewe regtig toeslaan, kan ek nie self behoue bly nie. Ek verloor fokus en perspektief, raak moeg en afgemat, kan nie behoorlik funksioneer nie, verloor my vreugde en my lag.

En vergeet dat daar ʼn definitiewe onderskeid is tussen aardse, menslike, moedelose berusting in omstandighede en God se beloftes dat Hy sterker as enige krisis, as die lewe self is.

Jesaja 40.

“Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ʼn maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ʼn skaal die berge en die heuwels geweeg?”

En dan die belofte in vers 28:

“Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Dít is hoe die seekastaiing, die Christen-mens oorlewe: Deur die genade van ʼn almagtige, alomteenwoordige, barmhartige God.


bottom of page