top of page
  • deur Milanie Vosloo

Ons hoef Hom nie te Skype nie


Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal ek Hom na julle toe stuur. Johannes 16: 7

Dis niks lekker om totsiens te sê nie. Veral nie as dit iemand is vir jy baie lief is en wat jy dalk ‘n tyd lank nie gaan sien nie. Menige ouer moes al met seer harte hul kinders groet wat vir ‘n onbepaalde tydperk of permanent buiteland toe gaan. Dan kry internet-verbindings mos ‘n nuwe betekenis! So was die dissipels se harte waarskynlik absoluut verskeur toe hul Meester en Vriend hemel toe is … totdat hulle besef het dat Hy hulle toe nié alleen gelos het nie.

Na ons Here se hemelvaart het Hy Homself op so ‘n wonderlike manier vir ons gegee. Hy’t sy Gees gestuur om só deel van ons te word dat ons nie een oomblik van Hom verwyderd hoef te wees nie. Ons hoef maar net aan Hom te dink om te weet: Hy’s bý ons. Ons hoef net op Hom te fokus en te ervaar: Hy hoor ons. En ons kan maar net in sy teenwoordigheid vertoef totdat ons rus vind vir ons siel.

Hoe wonderlik dat ons nie die Gees hoef te Skype nie! Omdat Hy reeds bý ons is!

Vou die sagte vrede van U hier-by-my-wees om my hart, Gees van God.


bottom of page