Genade vir gister [resensie]
top of page

Genade vir gister [resensie]


Twee onwaarskynlike mense om verlief te raak – Lexie Graham is die polisiehoof en ‘n enkel ma wat haar hart en siel in haar werk werp en slegs nog tyd oor het vir haar gesin en Adam Stone, ‘n tronkvoël wat besig is om in die samelewing aan te pas na die tyd in die gevangenis.

Lexie se kontak met Adam is deur ‘n jong seun wat op die verkeerde pad beland en onder invloed van verkeerde vriende betrokke raak by wat hom in groot moeilikheid kan bring sodat sy pad met die polisie kruis. Sy vra Adam om hom oor die seun te ontferm.

Die verhaal speel af in ‘n kusdorpie met sy unieke karakters en neem jou in die konteks in sodat jy later met die karakters identifiseer. Die verhaal is uitmuntend geskryf en lees vining omdat jy meegesleur word deur spanning en die ontplooiing van ‘n hoogs onwaarskynlike liefde.

Die skrywer is bekend vir talle topverkoperboeke wat spanningsverhale asook liefdesverhale insluit. As meester van die vertelkuns het sy al talle toekennings verower. Dié verhaal is uit Engels vertaal en sal jou gou oortuig dat haar toekennings verdiend was. Die vertaling is ook uitstekend gedoen en die boek is baie goed versorg, soos die standaarde is wat CUM aan sy boeke stel.

Hier het jy een van daardie boeke wat jy eers lees voor jy dit as geskenk weggee. ‘n Verhaal wat jou lank gaan bybly en wat ook ‘n belegging in jou geestelike lewe is omdat jy hier te doen het met mense wat in hulle daaglikse lewe voor uitdagings te staan kom en regkry om geloof as riglyn en beginsel te gebruik om ongeskonde anderkant uit te kom.


bottom of page