Feestyd - die wonderlikste tyd van die jaar?
top of page

Feestyd - die wonderlikste tyd van die jaar?


“It's the most wonderful time of the year There'll be much mistltoeing And hearts will be glowing When love ones are near

It's the most wonderful time of the year”

Hierdie liedjie van Andy Williams beskryf Kerstyd as ‘n wonderlike tyd van kuiers met familie en vriende. “The most wonderful time of year!” ‘n Tyd van geskenke en partytjies, van saamwees en liefde. Meeste van ons ervaar dit dan ook so en is dit ‘n tyd van vakansie, ontspanning, rus en kwaliteit tyd met die mense vir wie ons lief is.

Verhoudings is egter kompleks en ten spyte van die mooi woorde van hierdie liedjie kan die Feestyd spanningsvol wees. Roer by hierdie kookpot bekommernis oor finansies, druk om alles betyds en perfek reg te kry, kuiergaste en te veel alkohol – dan kan hierdie drukpot te veel stoom afblaas. Dit kan dan die Kersgety word wat ek vir die verkeerde redes onthou.

Die belangrikste teenvoeter hiervoor is om Jesus se voorbeeld te volg en tyd met God te spandeer. “Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat.” (Markus 1:35 Die Boodskap)

Vakansietyd vra fyner beplanning om tussen kuiers en uitstappies tyd in te ruim vir God. Vroegoggend wanneer alles nog stil is, is vir my persoonlik ‘n wonderlike tyd om in Sy teenwoordigheid te spandeer. Dan geniet ek die sonsopkoms en die stilte van die vroeë oggend saam met Hom, laai ek my battery en kry Sy perspektief op die dag wat voorlê. Dan herfokus ek op wat belangrik is en waaroor die feesgety werklik gaan, sê ek dankie sê vir al die genade en seëninge in my lewe. Hier kan ek bid vir liefde en vrede in die krimpvarkie verhoudings, kan ek Hom vertel van al my bekommernisse oor finansies, bekommernis oor werk of oor my gesondheid (Filipense 4:6,7).

Wanneer ek dan later gaan inkopies doen en die druk daar is om te oorspandeer of familieverhoudinge raak knap, kan ek dit met groter kalmte, liefde en geduld hanteer. Dan kan ek onthou dat die beste geskenk ‘n liefdevolle verhouding is waar ek ander met respek, deernis en empatie behandel, kan die Heilige Gees my herinner aan die wysheid van Spreuke 17:1 ”Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby, as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.” (1983 Vertaling)


bottom of page