Maak dit feestyd vir iemand anders
top of page

Maak dit feestyd vir iemand anders


Feestyd is gevaarlik. Nee, ek praat nie net van die feit dat diewe en misdadigers steeds in omloop is nie. Dit ook, maar ek praat ook van die feit dat hierdie feestyd ’n groot effek het op baie van ons se lywe. ’n Dieetkundige sê juis nou die dag mens kan maklik ‘n hele 3 kilogram optel net tussen Kersfees en Nuwejaar. Dis nou van al die eet en kuier. Nou ja, na hierdie “opbouende” woorde - of is dit eerder “gewigtige” woorde? - is dit dalk nodig om ‘n slag verby die braaivleisvure en al die lekkernye te kyk. Net dalk moet jy en ek ook die groter prentjie raaksien rondom ons. Jy en ek leef in ‘n wêreld van ongelykhede. Baie mense hier in ons eie land gaan ’n honger feestyd tegemoet. Dit breek my hart as ek iewers in ’n boek lees dat die gemiddelde Amerikaanse troeteldier beter eet as 50% van alle mense in Derde Wêreldlande in hierdie feestyd. Ja, ek weet jy en ek kan nie die hele wêreld verander nie. Maar ons kan wel ‘n verskil in Jesus se Naam in die lewe van minstens een ander mens maak. Dis oorgenoeg. Dis broodnodig. Dit gaan ons boonop van ons stoele laat opstaan om hulle te gaan dien. Kom ons doen goed aan minstens een ander persoon in hierdie tyd. Dan loop ons op die pad van 1 Petrus 2:15. Dan brei ons die feestyd op die regte manier uit.


bottom of page