top of page
  • deur Milanie Vosloo

Wikkel jou in sy liefde toe


“Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Julle vra: Hoe kry mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader My vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer.” Johannes 15:9b-10

Ek dink nie ons het die vermoë om, terwyl ons nog op aarde is, heeltemal te besef hoe lief God ons regtig het nie. Ons mens-vertandjies en begrip van sy goddelike liefde is eenvoudig te beperk. Tog kan ons met ons beperkte begrip in die belewenis van sy liefde groei ... omdat ons die Gees in ons het wat die omvang van sy liefde aan ons kan openbaar. En juis omdat die Gees in ons is, kan ons onsself elke dag in sy liefde toe-wikkel.

Om dit te doen, het ons egter stilte nodig. Stilte in sy teenwoordigheid. Dis wanneer ons tyd maak om by sy voete te gaan sit, wat ons iets sal voel van sy onbeperkte en onvoorwaardelike liefde vir ons.

Jy kan sommer nou God se liefde vir jou soos ‘n sagte troetelkombers om jou skouers gooi. Word stil en laat toe dat Hy jou nou, op hierdie oomblik met sy groot liefde bederf ... Haal rustig asem en voel hoe Hy jou daarin toevou ...

Gees van God, ek wil heeldag in u sagte liefde bly.


bottom of page