top of page
deur Marius Nel

Take courage, dear heart [resensie]


Take courage, deur heart

Dié boek met oordenkings wat vir ‘n volle jaar gebruik kan word, is deur twee vroue geskryf. Milanie Vosloo is ‘n bekende by Suid-Afrikaanse Christenlesers. Sy het al talle boeke geskryf wat topverkopers geword het; as besige besigheidsvrou is sy ook ‘n gewilde spreker by konferensies. Haar skryfwerk beklemtoon hoop en aanmoediging en sy raak ook in dié boek ‘n mens se hart met haar wysheid en empatie aan. Amylee Weeks is ‘n begaafde Amerikaanse kunstenaar wat saamgewerk het aan dié oordenkings.

Christian Art / CUM het die kuns ontdek om boeke te produseer wat kunswerke is. Ook in dié geval is dit so, met goud-omlynde blaaie, ‘n baie mooi buiteblad en die kunstige gebruik van kleur om elke bladsy in die boek in ‘n kunswerk te omskep.

Elke oordenking is op ‘n afsonderlike bladsy, bevat ‘n teksvers, kort bespreking wat prakties gerig is, ‘n gedagte wat stimulerend is en heeldag by jou gaan bly en ‘n konsepgebed wat die leser se gedagte in ‘n rigting stuur om op die oordenking te reageer.

So skryf hulle oor: Om in die geloof te volhard. Die teksvers kom uit Hebreërs 10, dat ons nie terugdeins nie maar aansluit by mense wat in geloof vorentoe beur en gered word. In die oordenking lees jy dat as jy Rome wil sien vanaf die toring van die bekende Petruskerk, jy al die trappe sal moet klim tot heelbo. As jy halfpad is en wil omdraai, gaan jy niks gesien kry nie. En wat ‘n gesig wanneer jy uiteindelik heelbo kom! So is dit in die lewe: jy wen eers as jy by die eindstreep kom. Daarom kos dit ook as dissipel van Jesus eindelose moed, selfdissipline en vasbyt om te wen. Soms val jy en moet jy opstaan. Soms wil moeilike omstandighede jou moedeloos maak maar dan moet jy steeds vra: Here, wat sou U doen? Die prikkelende gedagte kom van William Barclay, dat die grootste eer wat ‘n mens kan toeval is wanneer mense getuig dat jy tot die einde lojaal en toegewy gebly het. En die gebed: Here, help my om soos U op te tree sodat ek eendag die ewigheid met U kan deurbring.

‘n Pragtige boek om jouself mee te bederf in 2019, en ook geskik as ‘n geskenk. En nie net vir dames bedoel nie!


bottom of page