Deel II: So waar’s jou God dan nou? O, daar!
top of page

Deel II: So waar’s jou God dan nou? O, daar!


Mense vra gedurig waar is God as slegte dinge gebeur? Hoekom laat Hy natuurrampe toe? Om nie te praat van plaasmoorde, droogtes, of werkloosheid nie. Hoe gemaak die dag as sulke vrae op jou en my losgelaat word? Hoe antwoord ons?

Feit: Ons is nie God se aardse regspan wat Hom gedurig moet probeer verdedig of verklaar nie. Soms weet ons net nie. Ons het regtig nie al die antwoorde nie. Ook is nie alle vrae goeie vrae nie. Ons weet God is nie ’n Probleemgeval of ’n Raaisel wat onsself moet help oplos nie. Hy is wie Hy is - die God van liefde. Nee, Hy is nie ’n tipiese Olimpiese god, ’n Zeus soos wat baie vraagstellers en verwytendes Hom uitmaak om te wees nie. Zeus, die hoofgod van die Romeine, het naamlik al toutjies getrek. Hy het alles en almal se lewens beheer deur die noodlot. Met name het Zeus drie godinne gehad wat hiermee gehelp het, bekend as die Moirae, wat die lotgevalle van alle mense georkestreer het. Die eerste een, Clotho, het ’n weefdraad gehad waarmee sy alle mense se lewe geweef het. Dan was daar Lachesis wat almal se lewe met ’n maatband afgemeet het, en dan Atropos met haar skêr. Sy het mense se lewens afgeknip wanneer hulle strepie getrek was. Kortom, in die Grieks-Romeinse mitologieë was mense uitgelewer aan hierdie gode wat alles met jou laat gebeur soos wat hulle wil. God is egter nie so nie. Hy is ons Hemelse Vader. Hy gee aan ons almal keuses en vryheid. Hy maak ons nie robotte of noodlot-slagoffers nie. Sy liefde word sigbaar aan ‘n kruis. Daar leer ken jy sy hart, daar alleen!

Feit: God is nie die Hoof 'n hemelse sekuriteitsmaatskappy wat gedurig aan prestasiemetings onderwerp word oor hoe effektief Hy ons van slegte dinge vrywaar nie. Bose mense doen soms bose dinge aan ons. Goor natuurrampe tref ons. Die Bybel vertel oor en oor dat sulke lyding ook gelowiges se voorland is. 1 Petrus 3 sê ons leef binne God se wil as ons dapper vashou aan Christus wanneer ons onregverdig ly. Presies dit het gebeur met ‘n Jakobus, ’n Petrus, ’n Paulus, ’n Stefanus, en vele ander Christene wat deur die eeue vermoor is en nogtans enduit hulle oog op Christus gehou het.

Feit: Ons as gelowiges weet niks kan ons ooit van God skei nie, nie eens die wreedste lyding nie.

Feit: Ons eintlike bestemming is by Christus. Jesus leer ons om te bid: “Bewaar ons van die Bose.” Ons moet dit elke dag bid. Ook mag ons weet ons is onsterflik totdat die Here ons huistoe laat kom. Ons troos is regtig daardie woorde van Filippense 1:21 dat Christus ons hele lewe is, en ons sterwe wins.


bottom of page