Jesus: na 2000 jaar steeds aktueel
top of page

Jesus: na 2000 jaar steeds aktueel


Hedendaagse teoloë het reeds wonderlike dinge oor Jesus gesê en boeke oor Hom geskryf. Dan natuurlik Paulus, Johannes en al die ander skrywers van die Nuwe Testament. Selfs in die Ou Testament word daar oor Jesus geprofeteer en in die Koran word daar na Hom verwys. Soveel boeke en dinge en gesegdes en gissings en woorde en aannames oor een enkele man wat nie eens die ouderdom van 35 jaar bereik het nie. Sy bediening het oor net 3 jaar gestrek en sy lewe as mens het tragies as misdadiger aan ’n kruis geëindig.

Hy is die persoon wat sekerlik oor die eeue heen in die mees omstrede gesprekke genoem is en op enige gegewe tyd in verskeie kontroversiële kwessies bespreek word. Gelowiges praat met die wonderlikste lof van Hom. Ateïste met smalende meerwaardigheid en Agnostici met agterdog.

Talle boeke op die rakke het net een doel voor oë: Om ’n waterdigte saak vir die bestaan van Jesus voor te berei en aan te bied. Almal moet immers van sy bestaan oortuig word. En nog meer boeke probeer uitvind presies wie Hy is en waarom Hy so ’n massiewe impak op die mensdom gehad het.

Ander weer probeer ’n saak téén sy bestaan uitmaak.

Ek bly oningelig-nuuskierig oor Hom, het ’n drang om te weet presies Wie en Wat ek aanbid. Ek wil uitvind waarom nie eens Ateïste kan stilbly oor Hom nie en waarom selfs die klippe uitroep. En wat maak dat Hy vandag steeds relevant is? Meer as tweeduisend jaar na sy geboorte? Wie was Hy? Wie ís Hy? En wat beteken dit vir mý?

Die skrywer in my pen gedagtes neer. Ek ondersoek en probeer dieselfde ding uit verskillende hoeke bekyk. Ek spoel my brein en pak gedagtes en eie-opinie op die tafel. Skaaf aan my eie indrukke. En timmer hier en timmer daar en probeer iets aanmekaar slaan wat my brein kan verstaan.

En steeds weet ek doodeenvoudig nie, kan my klein verstand nie die inligting verwerk tot iets menslik-verstaanbaar nie.

“Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

Hier op aarde bly die spieël frustrerend-dof.

Maar eendag sal die misterieuse Boom van Kennis my oog vang. Daar waar hy ewig majestueus in die middel van die paradys waak. Ek sal naderstaan. Eers versigtig en dan met toenemende vreugde en opwinding. Ek sal opkyk na waar die ryp rooi vrugte lokkend en bloedskoon hang. Ek sal met toestemming een pluk en in die soet inbyt. Ek sal die opwinding van kennis voel bruis en weet: nou ken ek Hom ten volle soos Hy my ten volle ken.

Halleluja!


bottom of page