Openbaring Hoofstuk 17 [video]
top of page

Openbaring Hoofstuk 17 [video]


ME. BABILON, DIE DRAAK SE LAASTE TROEFKAART!

Die sedelose vrou Babilon, wat ons in hoofstuk 17-18 raakloop, is nog een van die draak se gevaarlike anti-Christelike troefkaarte. Teen hierdie tyd weet ons dat dit die skuilnaam vir Rome was (vgl. 1 Pet 5:13). Hierdie vrou word as ʼn prostituut of sekswerker voorgehou (17:1-6). Sy pleeg owerspel met die nasies en verlei die magshebbers van die wêreld sodat onreinheid en bose chaos orals heers. Die woestyn word ook as woonplek van me. Babilon aangegee. Dit voorspel gevaar vir die kerk, want nou is die woestyn nie net meer hulle woonplek, soos wat ons in hoofstuk 12 gelees het nie. Babilon se rytuig is die dier uit die see van Openbaring 13 met sy godslasterlike name, koppe en horings. Die helderrooi en pers klere verraai haar adellike afkoms (synde pers of purper net deur die Romeinse adelstand in daardie tyd gedra is). Sy het ʼn geheime naam, maar Johannes ken dit, naamlik Babilon, die moeder van alle sedeloses (17:5). Haar mag en wellustigheid verlei almal. Selfs die engel wat Johannes vergesel moet hom beveel om sy oë van haar af te neem as hy haar oorbluf aanstaar (17:6b-7). Babilon se gevaarlikste kenmerk is immers dat sy dronk word van die bloed van die heiliges en die bloed van die martelare wat aan Jesus behoort (17:6a).

In vers 9-11 ontvang Johannes ʼn leidraad (vgl. 13:18) rakende me. Babilon se presiese identiteit as hy hoor haar sewe koppe verteenwoordig die sewe berge daar by haar woonplek. Sonder twyfel verwys dit na Rome wat bekend gestaan het as Roma Septicolis (oftewel, Rome op die sewe heuwels.) In ingewikkelde beeldspraak word dan verwys na sewe konings (Romeinse keisers?), gevolg deur ʼn verdere tien konings (7:12). Waarskynlik dui dit op die voltal van bose ryke regdeur die eindtyd wat onder die gesag van die dier optree (7:13). Hulle teiken is die Lam self, maar Hy is meer as opgewasse vir die stryd teen al die goddelose nasies. Sy oorwinning oor hulle almal staan onwrikbaar vas (7:14).

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page