top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Ons sterflikheid kan perspektief bring


Wat is die punt van jou lewe? Selfs Jesus-volgelinge moet hierdie vraag gereeld vra.

Dit mag dalk na ‘n vanselfsprekendheid klink vir baie, maar so baie mense leef asof hulle nie die antwoord op hierdie vraag ken nie. Dis nie dat ons nie die vermoë het om diep te dink hieroor nie, maar ons leef met aandagafleibaarheid. Dis nie dat ons intellektueel gestremd is nie, maar ons verloor fokus.

‘n Vriend het my anderdag gehelp om weer opnuut oor hierdie vraag te dink toe hy ‘n hartaanval oorleef het. Kom ons noem hom Adriaan. Alhoewel Adriaan ‘n goeie mens is en ook ‘n relatief entoesiastiese gelowige is, is hy nie goed met emosies nie. Om te sê dat hy nie met sy gevoelens op sy mou loop nie is ‘n hengse afwatering van die realiteit. Die enkele paar kere wat hy ooit vir sy vrou en kinders direk gesê het dat hy vir hulle lief is kan jy op jou een hand tel. Sy geliefdes kry swaar omdat hy nooit sê hoe hy voel nie. Dit maak dat almal om hom met geweldige emosionele onsekerheid leef.

En toe word hy met die dood gekonfronteer. Hy staar die dood in die gesig en oorleef ‘n onverwagte hartaanval. Sonder dat sy vrou daarvan weet is hy hospitaal toe waar die dokters toetse doen en diagnoses vasstel. Sy vrou vertel my egter tranerig en diep bewoë dat toe hy haar uiteindelik skakel, sy eerste woorde was:

Ek is lief vir jou!

Sy het haar byna oor ‘n mik geskrik en gedog iemand is dood. Sy het geskrik want Adriaan praat nooit so nie. Wat het gebeur? Hy het perspektief gekry. Toe sy eie sterflikheid vir hom wink toe besef hy weer waaroor sy lewe eintlik gaan. Die dood bring toe die perspektief en realisme wat dit vir hom moontlik maak om hierdie kragtige woorde te uiter… ek is lief vir jou!

Waarom sê ons dit so min? Want ons aandag en fokus word afgelei deur dinge soos die rykdom wat ons het, die mag waarmee ons speel, sowel as die tegnologie wat die wêreld aan ons vingerpunte plaas. Alhoewel Jesus-volgelinge weet dat hulle ewig gaan leef gee hierdie dinge vir ons die indruk dat ons self gode is, magtig is en dat die dood eers veel later op ons wag. Dis amper asof al hierdie luukshede ons laat dink dat ons ons eie dood kan uitstel en dat dit eers sal kom wanneer ons reg is daarvoor. Dis byna asof ons tydelik vergeet dat ons sterflik is en dat nóú belangrik is, dat liefde nóú verklaar moet word. Hierdie insig wat ons eie sterflikheid vir ons meebring is groter as ons begeerte om emosioneel veilig te leef. Dis sterker en meer oortuigend as enige iemand wat agter die woorde probeer skuil dat hy “eenvoudig nie ‘n emosionele mens is nie” of dat sy “rasioneel is en nie so sentimenteel grootgemaak is nie.”

Die beste voorbeeld sien ons in die lewe van Jesus deur die woorde van Johannes. Johannes skets Jesus as die Logos, die Magtige, die Een van die lewe en dood in sy hand hou. Tog toon hierdie magtige Jesus buitengewone kwesbaarheid deur die openlike verklaring van sy liefde aan sy vriende. In die laaste toneel van Jesus saam met sy dissipels – die aand voor sy gevangeneming – sê Johannes (13:1b):

Hy het sy eie mense wat in die wêreld is liefgehad. Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.

In Johannes 15: 9, 12 sê Jesus self die volgende:

Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly… Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Ek wonder of almal besef hoe uniek en ongewoon hierdie woord in die antieke tyd was. Die Grieke en Romeine het geleer om jou mede-landsburgers met respek te hanteer, maar niemand het só openlik en op die man af oor liefde gepraat nie. Die Stoïsynse filosowe het gepoog om met waardigheid op te tree teenoor hulle medemens en die Epikuriërs het vriendskap hoog geag, maar byna niemand het liefde nog ooit so openlik verklaar nie, selfs nie die Jode nie.

Maar Jesus is nie ‘n Stoïsyn of gewone Jood nie. Hy ís die punt van die lewe, en Hy ís liefde! Daarom verklaar Hy dit openlik aan sy vriende en selfs aan sy vyande wanneer Hy voor die oë hele wêreld vir hulle sterwe.

Alhoewel ‘n Jesus-volgeling dus dankbaar uitsien na die lewe na die dood, moet ons nie leef asof ons onsterflik is nie. Ons moet leer om ons liefde nóú te verklaar! Ons kan nie wag vir beter dae nie. Liefde is te belangrik. Ons weet nie wat môre bring nie, daarom behoort ons lief te hê met die passie en dringendheid van Jesus! Ja, ons behoort dit gepas te doen en met styl en dit help ook om die regte oomblikke te kies, maar ons kan dit nie uitstel nie!

Wanneer laas het jy geleer by mense soos Adriaan? Wanneer laas het jy jou vrees in jou sak gesteek, of jou begeerte na veiligheid neergelê, of die risiko geneem om Jesus veral híérin te volg en die kragtigste woorde in die geskiedenis te uiter:

Ek is lief vir jou!

Dít is die punt van die lewe!


bottom of page