top of page
Writer's pictureStephan Joubert

So, waar is jou God dan nou?


Gereeld word hierdie vraag op my losgelaat in die daaglikse rubriek wat ek behartig in die dagblad Beeld. Gewoonlik word ’n slegte scenario eers vir my geskets, soos een of ander wreedaardige misdaad waarin iemand betrokke was, en dan word dit opgevolg met daardie verwytende vraag- “waar’s jou God van liefde nou?” Of iets soos: “As God liefde is, hoekom het Hy dit nie gekeer nie?” Wel, sulke dinge is verskriklik. Dis hartverskeurend sleg. Om egter sulke wreedhede voor God se deur te lê, is om Hom te verander in ’n hemelse programmeerder met ons as menslike robotte. God het nie robotte gemaak nie; Hy het mense gemaak; mense met vryheid van keuse. Nie een van ons is willose slagoffers van bose drange of siek begeertes nie, tensy ons kies om dit te wees. Ons is nie geprogrammeer tot boosheid, misdade of geweld nie. Of tot slaafse gehoorsaamheid aan God nie. Een ding wat ons as mense juis onderskei van die res van die skepping is ons reg tot keuses. Ons het nie ingeplante mikroskyfies binne-in ons wat al ons gedrag reguleer en vooruit bepaal nie. Ons is morele wesens. So het God ons almal geskep. Ons is ook aanspreeklik voor Hom vir ons keuses. Nooit forseer die Here ons tot gehoorsaamheid aan Hom nie. Ons is nie geprogrammeer om willoos te handel en te leef soos wat die Here van ons verwag nie.

Mense se bose keuses is teen God se wil. Dit is vir hulle eie rekening. So leer Jakobus 4 ons helder en duidelik as hy skryf slegte mense veroorsaak slegte dinge. Mense wat teen God kies moor, roof en steel. God gee graag net goeie gawes en goeie dinge vir ons, soos wat Jakobus 1 leer. Snaaks genoeg vra daardie einste mense wat so kwaad is vir God nooit vir my waar is Hy as dit goed gaan met hulle nie. Dan is dit sommer net hulle eie skuld! Maar laat iets net skeef loop, dan is daardie mense smoorkwaad vir God, selfs al het hulle Hom nooit gedien in hulle sonskyn-dae nie.

Ek dien nie ’n mooiweer-God nie. Ek weet die ware God is by my wanneer ek langs groen weivelde loop, maar ook wanneer ek deur ’n diep donker dal worstel. Wanneer die son rondom my skyn, maar ook wanneer lyding my naam en adres het, is God naby. In Christus is Hy my hoop. Dit weet ek onder alle omstandighede


bottom of page