Die grootste guns
top of page

Die grootste guns


Het jy ook al gewonder hoe jy vir God kan wýs dat jy Hom liefhet? Jy sê dit gereeld vir Hom in jou lof en liefdesverklarings, maar jy wonder dalk soms hoe jy régtig vir Hom kan wýs hoe lief jy vir Hom is.

Jesus self het vir ons hier die antwoord gegee toe Hy gesê het dat ons maar net moet doen wat Hy vra. En wat vra Jesus? Hy vra dat ons so naby aan Hom sal leef dat sy wese op ons kan afvryf. Dat ander as’t ware iets van Hom deur ons kan sien. En dit kan ons net regkry deur vol te bly van die Gees, deur sy Woord ons eie te maak en deur met opregtheid te doen wat Hy ons vra.

God verwag nie van ons om dinge buite ons vermoëns te doen nie. Hy wil ook nie hê dat almal van ons ons loopbane sal prysgee om “voltyds” vir Hom te werk nie. Hy vra dat ons:

  • dit wat sy Gees op ons harte lê elke dag sal doen;

  • elke ander mens wat ons pad kruis met opregtheid sal liefhê; en dat ons

  • sigbaar sy voete, hande en mond hier op aarde sal wees.

Jy kan jou liefde vir God wys presies op die plek waar jy nou is, in die omgewing waar jy jou bevind, en aan die mense wat Hy om jou geplaas het.

Here Jesus, ek wil my liefde vir U vandag wýs.


bottom of page