top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Oestyd


Oktober is jaar na jaar tiendemaand dankoffer-tyd in die kerk.

Dit laat my aan die woord “oes” dink.

OES is ’n ryp woord. Vrugbaar. Seën en verwagting. Dankbaarheid dat God gesorg het.

Al boer die meeste van ons nie meer nie, kan ons steeds getuig van ’n oes wat met groot sukses inkom. Jaar na jaar vir dié wat met geloof en hoop hul oë op ons Here hou. Elkeen van ons kan vertel van seën in ons lewens. Van onverwagte geskenke en positiewe verrassings.

Soms sak die peste deur die loop van die jaar op ons oeste toe en dalk bly die reën vir ’n tyd lank weg. Maar God ken elkeen van ons en ons behoeftes. Selfs beter as wat ons onsself ken.

Hy is die groot Oesmeester wat elke aspek van die oes hanteer en orkestreer. Sy tydsbesrekening is perfek. Dit begin by die gereedmaking van die grond. Met liefde meng Hy die kompos. Net genoeg van elke bestanddeel word ingewerk. Hy weet presies wanneer om te besproei en wanneer om vir die reën te wag. Elke saadjie wat ontkiem, word met sorg en liefde dopgehou. As die narighede toeslaan, staan Hy gereed om dit te verjaag.

As jy Hom soek, sal jy Hom op sy trekker sien. Of dalk waar Hy deur die lande stap en met sensitiewe vingers oor elke aar streel. Die groot Boer. Meester oor sy oes.

Dankbaarheid is ’n positiewe emosie, ’n lewenswyse.

God hou waak oor die oes. Oor my lewe. Oor sy koninkryk. Oor sy skepping. En daaroor is ek dankbaar.


bottom of page