Die probleem is nie dat ons twyfel nie. Ons twyfel nie genoeg nie.
top of page

Die probleem is nie dat ons twyfel nie. Ons twyfel nie genoeg nie.


Dis vandag hoog mode om te twyfel, veral onder denkende gelowiges en skeptici. Dis seker te verstane aangesien ons in ‘n onbetroubare wêreld leef waar mense en instansies ons gedurig teleurstel en nie opleef teen allerhande soorte verwagtings nie. Vertroue loop nie vandag hoog tussen mense nie. Eeue-oue waardes word bevraagteken en uitgedaag om plek te maak vir nuwer idees. Kritiek van buitestaanders is dat ons in die kerk maar net gekondisioneer word om te glo en te dink soos ons dink. Gelowige mense word gekritiseer dat ons maar net alles kritiekloos aanvaar wat deur ons ouers en die kerk aan ons geleer is.

Dis natuurlik goed om krities te wees en dinge te bevraagteken. Wie wil nou gedurig heen en weer gesleur word deur elke Jan-Rap-en-sy-maat wat ‘n opinie huldig? Sommige mense is inderdaad geheel en al te naïef, ook in gelowige kringe en ook in die kerk. Twyfel is ‘n kragtige wapen wat ons tydelik kan help om dieper te dink oor ons geloof en wat ons kan help om beter te verstaan. Dit kan ons help om dieper vrae aan die lewe te vra en tot ‘n helderder verstaan kom van ons eie realiteite.

Verder is twyfel ook ‘n welkome deel van enige denkende mens se geloofsreis. Almal twyfel van tyd tot tyd. Trouens, geloof mag soms ‘n bietjie twyfel nodig hê om weer sterker aan die anderkant uit te kom.

Daar is egter een ding wat my pla na baie jare se geluister na skeptici en twyfel veterane. In ons soektog na die waarheid en dit wat eg is, is daar een belangrike stukkie intellektuele gereedskap wat min twyfelaars skynbaar ooit oorweeg of gebruik. En dit is dat sommige twyfelaars nie konsekwent is in hulle twyfel nie. Myns insiens is die probleem dus nie dat hulle soms twyfel nie maar dat hulle nie ver genoeg gaan in hulle twyfel en skeptisisme nie.

Wat ek bedoel is dat twyfelaars nie hulle twyfel genoegsaam betwyfel nie. Twyfel moet ook bevraagteken word soos enige ander belangrike saak in die lewe. Die rede hiervoor is dat twyfel ook ‘n gevolg kan wees van sosiale kondisionering.

Ons leef vandag in ‘n sekulêre samelewing. Dit beteken dat alhoewel daar steeds baie gelowiges en kerke in ons land is, ons leef in ‘n tyd van bevraagtekening en skeptisisme. Die filosoof Charles Taylor beweer in sy boek, A Secular Age, dat skeptisisme die atmosfeer is wat ons inasem elke dag. Dit het ‘n wesenlike invloed op ons daaglikse psiges. Hy sê dat:

Doubt is “spontaneously imagined and therefore experienced…”

Dit beteken dat ons nie noodwendig twyfel omdat geloof en God nie eg is nie maar bloot omdat die sekulêre suurstof wat ons elke dag inasem, ons verbeelding so gevange neem dat dit vanselfsprekend word om te twyfel. Daarom is twyfel nie noodwendig ‘n uitdrukking van realiteit nie maar bloot ‘n newe-effek van die gees van ons tyd. Ons moet dus nie sommer “naïef” twyfel, of enige twyfel kritiekloos aanvaar nie. Veral nie aangaande eeue-oue tradisies soos die Jesus-beweging wat al die toets van moeilike tye deurstaan het nie. Sommige mense ruil veels te vinnig ‘n histories-getoetste geloof vir ‘n kortstondige bevlieging van twyfel.

Onderwerp dus jou twyfel aan deeglike ondersoek deur dit krities te benader met gepaste skeptisisme. Dan mag jy dalk agterkom dat daar meer sit agter die Nasarener van Galilea, as bloot die klakkelose oordrag van sy verhale deur eng denkende konserwatiewes. Dalk mag jy subtiel hoor hoe dat elke bladsy van die Nuwe Testament ritsel met die fluistering dat hierdie nuus goed is, ongelooflik goed is, dat jou lewe tel, en dat jy meer geliefd is as wat jy ooit sou kon droom.

Jy mag selfs dalk hoor hoe dat God jou naam roep en jou uitnooi om weer te glo.


bottom of page