Openbaring Hoofstuk 14 [video]
top of page

Openbaring Hoofstuk 14 [video]


GOD SE MENSE WORD OOK GEMERK

Almal is gedurig aan’t praat oor die “merk van die dier”, maar bykans niemand is vandag opgewonde oor die kosbare “merk van die Lam en die Vader” nie. Hierdie verseëling of merk van al God se mense het reeds aan die begin van die eindtyd in 7:2-3 plaasgevind toe die 144 000 gelowiges (as simboliese verwysing na die volle getal gelowiges, oftewel die nuwe Israel, hier op aarde) op hul voorkoppe gemerk is. Om die bluf te roep van die bose magte wat ook van die ooste af kom (16:12), verskyn God se engel uit hierdie rigting om elke gelowige hier op aarde met God se eiendomseël te merk. Terwyl Paulus onder andere in Efesiërs 1:13-14 noem dat die Gees al God se kinders merk as sy eksklusiewe eiendom, hoor ons hier dat God sy mense op hulle voorkoppe merk sodat hulle nie uit sy hand kan val nie. Dieselfde nuus weerklink in 14:1-5. Ons verneem hier nogmaals van die 144 000 gelowiges wat nou saam met die Lam op Sion staan. Terwyl vele Bybelverklaarders hierdie toneel as ʼn toekomstige of hemelse visie verstaan rondom die kerk se toekomstige redding, lyk dit eerder of die ganse aardse kerk van Christus in die eindtyd hier ter sprake is, soos ook vroeër in hoofstuk 7, toe Johannes dieselfde tipe simboliek gebruik het. Johannes dink nie aan Sion as ʼn fisiese plek nie, maar as verteenwoordigend van die spesiale teenwoordigheid van God by sy kerk. Daarom dat die Lam juis hier staan. Teenoor die vloekmerk van die dier wat sy mense op hulle voorkop en regterhand ontvang (14:9, 11), dra Christus se mense sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe.

Watter rol speel Sion in die volgende tekste: 1 Kon. 8:27; Ps. 2:6-11; Ps. 48:2-9; Miga 4:1-3?

Die gemerktes van die Lam se ware karakter blyk uit die loflied wat hulle sing. Op ʼn unieke manier vertel Johannes dat hulle ʼn nuwe lied sing wat niemand anders ken of sing nie, naamlik die lied van die hemelse skares wat tans voor die troon van God en die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens weerklink (14:3). Slegs die aardse kerk kan hierdie lied hoor en agterna sing omdat hulle lewens ingestel is op presies dieselfde “hemelse frekwensie” van aanbidding en lof waarvan Openbaring 4-5 vertel. Die aardse kerk sing nie klaagliedere nie. Hulle kla en murmureer nie, maar loof die Lam. Ook leef hulle selibaat (14:4). Hierdie teks bepleit egter nie letterlike selibaatskap nie. Dit is beeldspraak wat volgens Resseguie (The Revelation of John: A Narrative Commentary. Grand Rapids: Baker. 2009) ontleen is uit die motief van die heilige oorlog in die Ou Testament, wat beteken het dat soldate voor sulke gevegte geen seksuele gemeenskap kon hê nie (vgl. 1 Sam. 21:5, 2 Sam. 11:8-11). Die punt is dus dat die Lam se weermag in ʼn oorlog gewikkel is met lofliedere as hulle wapens. Tussendeur is die Lam se aardse weermag sy voltydse dissipels orals waar Hy gaan (14:4). Hulle is losgekoop as die “eerste vrugte” van die oes vir God en Christus (vgl. Eks. 23:19; Lev. 2:12; Deut. 18:4). Terwyl die Lam se volgelinge geen koopkrag meer geniet op die terrein van die dier nie (13:17), koop die Lam hulle egter los as die eerste oeste op die hemelse lande. Hulle ware karakter wys uit die egtheid en waarheid wat hulle lewenswyse en woorde kenmerk (vers 5). Ook geen wonder nie, want hulle Heer en Aanvoerder staan Self bekend as die Getroue en Betroubare (19:11).

Vir al die dier se gemerktes is daar nog ʼn kans tot bekering in 14:6-11 as drie engele hierná optree. Die eerste een roep die mensdom op tot eerbied vir God. Die tweede engel kondig Babilon, oftewel Rome, se val aan, waarná volgelinge van die dier by die derde engel hoor dat ewige oordeel hulle voorland is. Almal wat kies om sy vloekmerk te dra, sal die wyn van God se oordeel onverdund moet drink. Anders as wyn wat dikwels verdun is om in die plek van water te drink, of om die smaak daarvan te verbeter, of die alkoholiese inhoud te verlaag, gaan die dier se volgelinge God se oordeelswyn teen volle sterkte proe. Te midde van hierdie gevare moet gelowiges volhard (14:12-13). Daar wag groot seën op almal wat in die Here sterf, naamlik ewige rus in sy teenwoordigheid. Ook sal hulle daardie skrikwekkende finale “druiwe-oes” van

vers 17-20 misloop wat op alle goddeloses aan die einde van die tyd voor die Lam wag.

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page