Laat skyn jou lig by jou werk
top of page

Laat skyn jou lig by jou werk


Onlangs het ek, op 'n besoek aan Israel, 'n eenvoudige keramieklampie present gekry. Trouens, ons hele toergroep het elkeen 'n lampie gekry met die opdrag om te onthou dat Jesus die lig van die wêreld is en dat ons ons lig moet laat skyn. Vandag staan daardie lampie in my klas as ek skoolhou, om my te herinner dat ek my lig by my werk moet laat skyn.

Deesdae is daar baie invloede wat maak dat 'n mens se lampie dof brand en dat jou olie opraak. Die lewe is gejaagd. Jou kollegas ondersteun jou dalk nie in jou Christenskap nie. Jou dag is dalk so lank en vol, dat dit vir jou voel asof jy nie iewers nog behoorlike tyd het om met God te spandeer nie. In Johannes 3:19 lees ons "... die lig het na die wêreld gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad.” Dis hartseer, maar partykeer kies ons eerder duisternis as lig. Dit is asof dit vir ons lekker is om met die duisternis te flankeer.

Hoe kry 'n mens dit reg om jou lig te laat skyn? In Johannes 8:12 lees ons: "Ek is die lig vir mense. Wie my aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie." Dit impliseer dus dat ek naby aan Jesus moet lewe en moet luister na Sy stem. Ek moet gereeld olie kry by God, deur met Hom te praat en by Sy Woord stil te staan. Soos die wyse maagde, moet ek sorg dat ek nie onverhoeds betrap word sonder olie nie.

Hoe lyk 'n lewe wat skyn by die werk? Jy sal beslis 'n harde werker wees, wat jou bes doen. Jy sal 'n positiewe houding teenoor jou werk, meerderes en minderes he. Jy sal vriendelik en ondersteunend wees. Jy sal beslis nie deel wees van negatiewe geselskap wat kla oor die werksomstandighede en die land se patetiese toestand nie.

Met Jesus se lig binne jou, kan jy, al voel jy soos 'n onbekwame nederige lampie, die duisternis help verlig. Johannes 1:5 se: "Die lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.”


bottom of page