Bekommernis, onsekerheid, spanning of vrede en vertroue
top of page

Bekommernis, onsekerheid, spanning of vrede en vertroue


”Worry does not empty tomorrow of its sorrow, it empties today of its strength.” – Corrie ten Boom

Ek is een van die mense wat die dorpie “Wat As” gans te gereeld besoek en soms heeltemal te lank daar vertoef. “Wat As” is daardie plek vol onsekerheid, bekommernis, spanning en onrustigheid. Dit gebeur wanneer ek nie waghou oor my gedagtes en gevoelens nie. “Wat as” ek my werk verloor? “Wat as” ek nie die kontrak kry nie? “Wat as” my ongebore baba gestrem is? “Wat as” ek nie my eksamen slaag nie? “Wat as” die uitslag van die mediese toetse op kanker dui?

Dit gebeur wanneer ek my vertroue op my vermoëns, my paycheck, my omstandighede, my beleggings of spaarrekening plaas en vind dat dit bedreig word (fiktiewelik of werklik). Dit is wanneer ek gepla word deur slapelose nagte en ‘n knop in my keel. Hier wil ek in beheer wees van my finansies, verhoudings en gesondheid en beleef ek my vrese asof dit reeds ‘n werklikheid is. Ek kyk vas teen my “denkbeeldige” probleme. Die feit dat meeste van dit waaroor ek my bekommer nie gaan gebeur nie, is hier nie vir my ‘n realiteit nie.

Die wortel van hierdie distress, hierdie angstighede en spanning is natuurlik onsekerheid, kleingelowigheid en self in beheer te wil wees.

In skerp kontras hiermee is die plek genaamd “Vrede en vol vertroue” – ‘n plek waar ek rustig in God se teenwoordigheid en goedheid kan wees, gevul word met hoop. Hier ervaar ek die vrede wat alle verstand te bowe gaan waarvan Fillipense 4 vers 7 praat. Nie as gevolg van my omstandighede nie maar ten spyte van my omstandighede. Hier kan ek in stilte vertrou in die wete dat Hy in beheer is. Hier hou ek daaraan vas dat Hy in die verlede getrou was en ook nou en in die toekoms sal wees.

Hier kan ek glimlaggend dink aan die ou gesegde – “Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie” en sorg dat ek nie myself daaraan skuldig maak nie. Hier neem ek my saam met Paulus voor om “elke gedagte gevange te neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak”. Hier sorg ek dat ek nie my angstige gedagtes toelaat om met my op loop te sit nie en wanneer dit wel gebeur ek kies om dit gedissiplineerd weer onder beheer te kry.

Hier verdiep ek my in die talle verse in die Bybel waarmee Jesus my liefdevol herinner om nie te twyfel nie, en memoriseer ek dit om my gedagtes daarmee te vul wanneer die aanslae van die lewe kom.

Ek kan besluit waar ek my tyd gaan spandeer – in “Wat as” of “Vrede en vol vertroue”. Die keuse is myne.

Distress is unease and even panic based on distrust. Stress is the adrenaline rush when you are confronted with a challenge. – Rai-Mè


bottom of page