Openbaring Hoofstuk 13 [video]
top of page

Openbaring Hoofstuk 13 [video]


DIE RES VAN DIE SATANIESE TRIO

Satan neem in 12:18 stelling in op die seestrand. Vandaar kry hy ʼn demoniese monster uit die see (Op. 13:1-10), asook ʼn dier uit die onderwêreld (Op. 13:11-18) om sy werk hier op aarde namens hom te doen. Die dier uit die see is die nabootser van Christus. Net soos Christus in 5:6 en 19:11-16 heerserskrone, horings en Goddelike name het, dra hierdie bose dier ook krone en horings, maar dit is oortrek met godslasterlike name (13:1). Net soos God in die hemel die boekrol oorgee aan die Lam om dit oop te maak en uit te voer (5:7; 6:1), gee die draak sy eie mag, troon en gesag aan hierdie dier uit die see (13:2). Net soos Christus as die Lam bekend staan omdat Hy steeds die merktekens van sy aardse stryd dra (5:6), en aan die einde van die tyd weer met sy bloedbevlekte klere terugkeer aarde toe (19:13), boots hierdie dier Christus se wonde ook na (13:3). In dieselfde asem verlei hy die sondige wêreld om die draak te aanbid (13:3-4), net soos Christus gelowiges lei om die lewende God te aanbid (soos in die “Ons Vader”-gebed). Die dier uit die see se mag is skrikwekkend. Niemand ontsnap aan sy verleiding nie, behalwe diegene wie se name in die boek van die lewe geskryf staan wat aan die Lam behoort (13:8; vgl. ook 3:5; 17:8; 20:12, 15; 21:27). Tog word gelowiges nie beveel om te protesteer teen die lyding wat hulle hier in die eindtyd te beurt val, of om kwaad met kwaad te probeer beveg nie. Hulle moet hierdie onreg en lyding gelowig verduur, net soos Christus Self sy aardse lydingsbeker enduit gedrink het (13:8-9).

Wat doen die dier uit die see alles volgens 13:5-8?

Bo en behalwe die draak en die dier uit die see is daar ʼn derde lid van die sataniese trio volgens 13:11-18, naamlik die dier uit die aarde, wat later bekend staan as die vals profeet (16:13). Net soos die eerste dier is hierdie gedrog vanuit die onderaardse diepte se voorkoms uiters misleidend. Hy het die voorkoms van ʼn lam, maar die stem van die draak (13:11). Te midde van die gebrul van hierdie gevaarlike “lam”, is hy ʼn skaamtelose nabootser van die Gees. Hy tree immers namens die eerste dier op en mislei die wêreld om dié te aanbid (13:12). Hy doen wonders wat dié van Elia (1 Kon. 18) en die Here se twee getuies in hoofstuk 13 kopieer, maar dan met die doel om mense te verwar. Vandaar die waarskuwing om nie deur sulke tekens of bonatuurlike dinge verblind te word nie (vgl. Gal. 1:8; 2 Tess. 2:9). Ook rig hy ʼn beeld vir die eerste dier op wat deur die mense aanbid word (13:14b). Binne die eerste lesers se konteks sinspeel dit op die aanbidding van die Romeinse keisers in daardie tyd in Asië, wie se standbeelde orals in openbare plekke opgerig is. Asof dit nie genoeg is nie, verblind hierdie dier mense met sy bose kunste om dooie beelde te laat leef (vgl. ook Dan. 7:6; Hand. 8:9-24). Vervolgens plaas hy die gewraakte 666-merk op sy mense se voorkop en regterhand (13:16). Voordat ons op sleeptou geneem word en dadelik aan rekenaarskyfies en kredietkaarte begin dink – Johannes beskryf hierdie as ʼn universele merk wat alle volgelinge van die dier ontvang. Klein en groot, ryk en arm, slawe en vryes dra dit. Hierdie merk sinspeel op hulle dade (hul regterhand) en denke (die voorkop) wat in die mag van die Bose is.

Hoe word simboliese merktekens aan die kop en hand ten opsigte van God se volk gebruik in Eksodus 13:8-10 en 13:14-16; asook in Deuteronomium 6:6-8 en Esegiël 9:4-6?

Die Sataniese dier sorg dat ʼn universele merk op al sy aardse eiendom aangebring word sodat hy hulle te alle tye kan uitken. Hulle bose dade en denke verraai hulle elke keer. Vir die eerste lesers is daar ʼn leidraad of twee om hulle verder te help om die gestalte van hierdie bose dier in hulle eie dag uit te ken: Hy het ʼn geheime nommer, naamlik 666. Enigiemand wat weier om sy nommer te dra, kan niks koop of verkoop nie (13:17-18). Net soos met ʼn volgende leidraad in 17:9, moet die lesers hier tussen die lyne lees. Met name maak Johannes van die tegniek van gematria of getallespel gebruik waarvolgens bepaalde getalwaardes aan elke letter van die alfabet geheg is. Ongelukkig weet ons nie of Johannes hier ʼn Hebreeuse of Griekse alfabet, of ander geheime kodes gebruik wat sy lesers uiteraard goed geken het nie. Tog weet ons dat die naam “Keiser Nero” in Hebreeus op 666 uitwerk. Ook werk die Griekse naam thērion (dier), waarmee Nero ook soms benoem is, op 666 uit. Ons weet hierdie keiser was berug vir sy wrede vervolging van Christene in die middel van die jaar 64 nC in Rome. Daarna het baie Christene geweier om geld met sy afbeelding daarop te gebruik. Ook is vele Christene uit die Romeinse staatsdiens afgedank, asook uit ander beroepe waar daar van hulle verwag is om die plaaslike gode te aanbid. Daarom kon hulle in elk geval niks koop of verkoop nie, omdat hulle brandarm was.

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page