Die behoefte om reg te wees [resensie]
top of page

Die behoefte om reg te wees [resensie]


As mense hou ons daarvan as dinge vir ons reg loop, en as ons reg is. Indien dit nie so gebeur nie, ly dit tot spanning asook konflik. Oorloë word gevoer en egskeidings deurgevoer omdat mense glo dat hulle reg is, en die ander party is verkeerd. Om reg te wees, is ‘n dryfveer wat ons gedrag en besluite direk raak, al is ons dikwels nie bewus daarvan nie. En dit beïnvloed hoe en waaroor ons konflik in ons lewe beleef.

Dr Arnold Mol skryf oor dié probleem maar hy gaan ook verder en vertel van die verdedigingsmeganismes wat ons gebruik in ons strategieë om reg te wees. Dikwels ignoreer mense duidelike feite waarmee hulle gekonfronteer word en ontken dit, of redeneer die feite weg in ‘n poging om reg te wees, al impliseer dit dat hulle hulleself bedrieg.

En dan gaan Mol nog verder en bespreek ook die probleem vanuit die Bybel, en kry sy antwoorde en oplossings op die probleem vanuit die Bybel. Hy skryf oor verskeie strategieë, dat ‘n mens jou selfbeeld versterk, vuil baklei vermy, konflikhantering suksesvol aanpak, bereid is om by geleentheid van jou regte afstand te doen en geestelik te groei, om verby die natuurlike neiging te ontwikkel om altyd reg te wil wees.

Die skrywer is as gekwalilfiseerde bedryfsielkundige en bestuurskonsultant ‘n bekende spreker. Sy talle boeke handel oor huweliks- en gesinsverryking, bestuur, motivering, konflikhantering en ouerskap, en word almal gekenmerk deur sy passie vir die Bybel en sy verhouding met die God van die Bybel. As ervare sielkundige het hy die vermoë ontwikkel om ingewikkelde begrippe duidelik te maak, en om ingewikkelde menslike gedrag te verklaar en te verduidelik aan die hand van wat die Bybel oor die mens sê, en die mens se geneigdheid tot sonde.

Die boek is so geskryf dat dit maklik lees, met grootskrif, maar ook omdat dit alle begrippe verduidelik en aan die hand van illustrasies uit die gewone lewe demonstreer. Selfs die inhoudsopgawe maak reeds sin: die boek handel oor drie aspekte van ‘n probleem, ‘n dryfveer wat daartoe lei dat ons dit ontken en wat die oplossing daarvoor is.

Hier het jy ‘n belangrike boek om jouself te ontdek en te beskryf. ‘n Moet-lees vir mense wat in hulle geestelike groei wil belê, wat daartoe lei dat hulle bemagtinging tot diensbaarheid aan die koninkryk verbeter.


bottom of page