The 20 hardest questions every mom faces [resensie]
top of page

The 20 hardest questions every mom faces [resensie]


Die boek se vreemde titel roep vrae op. Wat het vrae waarmee ma’s te doen kry, te make met gebede? Die skrywer is ‘n ma van drie wat baie sukses met ander boeke gehad het soos Six weeks to keep the ‘little’ in your girl, 8 great dates for moms and daughters en And the bride wore white. Jy kry die idee: sy is ‘n ghoeroe oor ouerskap.

Hierdie boek handel oor vrae waarmee ma’s gekonfronteer word en wat dan biddend bekyk word terwyl die Bybel oopgehou word. Nie elke vraag gaan relevant vir elke ma wees nie, maar elke ouer gaan tussen die vrae ‘n paar kry wat hulle interesseer.

Van die belangrike vrae is: hoeveel kinders moet ons hê? Moet ek as ma uitwerk of by my kinders by die huis bly? Moet ek my kind na ‘n privaatskool of openbare skool stuur, of tuisonderrig doen? Wie kom eerste – my man of my kinders? Moet ek my kinders toelaat om oor te slaap? Hoe kan ek my kind toerus in ‘n wêreld waar sommige kinders ander terroriseer? Wanneer is my kind gereed om ‘n besluit te neem om Jesus as persoonlike Verlosser aan te neem? Moet ek my kinders laat inent? Wat doen ek as ons uitvind dat my kind homoseksuele neigings het? Het my kind ‘n selfoon nodig? Op watter ouderdom praat ek met my kind oor die bye en die voëltjies? En moet ek my kind vertel waar ek oor die tou getrap het? Wat moet my kind van interseks en transgenderisme weet?

Die boek handel oor vrae en pogings om dit eerlik vanuit die Bybel te beantwoord. En die manier waarop die skrywer met die Bybel omgaan, het my tevrede gestel. Sy gee nie maklike en vinnige swart-en-wit resepte wat in elk geval nie vir almal werk nie maar stoei werklik met sake wat dikwels gekompliseerd is.

Die boek bevat egter soveel meer. Dit is eerder ‘n bron van inligting, gereed om in bepeinsing gebruik te word, met talle korter artikels met nuttige inligting en oor talle ander sake, en selfs ‘n paar goeie resepte. Dit is na alles vir ma’s geskryf!

‘n Boek wat interessant en mooi gedruk is, wat dit ‘n ideale geskenk maak. Alhoewel ek die indruk gekry het dat ‘n mens daardeur gaan blaai, dit vir jouself gaan hou en nog ‘n kopie gaan koop vir die mamma wat verjaar!


bottom of page