Hoekom? Hoe nou?
top of page

Hoekom? Hoe nou?


Ons het onlangs self ‘n intense les-leer-oefening gehad toe ons jongste kleinkind nie net vroeg gebore is nie, maar die geboorte gepaard gegaan het met ‘n plasentale abrupsie en toe nog bloedklontjies op die mamma se longe. Toetse en toetse en nóg toetse word gedoen en die familie wag in spanning …

Daar is so baie ander wat hierdie selfde spanning ken – of selfs erger. Dalk ‘n eggenoot of kind wat in die greep van ‘n ongeneeslike siekte vasgevang is en dag na dag uitteer. En dan wil ons soos Job begin vrae vra. Hoekom? Hoekom moet ek/ons so swaar kry? Hoekom laat God dit toe? Hierdie onskuldige klein kindjie het tog nie gesondig nie? Ek lei tog ‘n redelike skoon lewe?

Ek het dalk selfs vir ander vertroos en bemoedig, maar noudat ek self in ‘n maalkolk beland, vind ek dit bitter moeilik om kop bo water te hou. Nou vind ek soos Job van ouds dat die grootste les is om God te vertrou al kan ek nie die rede vir ons swaarkry sien of verstaan nie.

Gelukkig het ons God se liefdesbrief aan ons, sy Woord, waarin ons kan sien hoedat Hy ander geleer en gelei het en ook deur ander se lering vir ons leer hoe om swaarkry te hanteer. So moes Job leer om God te bly vertrou al kon hy nie die sin in sy swaarkry sien nie. So het Habakuk die voorbeeld gestel deur te sê: “Al sou die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek jubel in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Habakuk 3:17-18, 1983 Vertaling)

Wanneer ek dan in ‘n blinde vertroue bewerig ‘n loflied begin sing, herinner ek myself aan wie God is – Hy is my Redder, my Helper en Hy het ‘n goeie, groter plan met my lewe. In plaas daarvan om snags rond te rol van bekommernis, kan ek eerder in my gedagtes oor en oor ‘n bekende loflied sing, of daardie vers waardeur God my al in die verlede bemoedig het, oor en oor vir myself opsê totdat ek rustig raak in die wete dat my God in beheer is, bv.

You will guard him in perfect and constant peace whose mind is stayed on You, because he commits himself to You, leans on You and hopes confidently in You.” (Isaiah 26:3, Amplified Bible)


bottom of page