Werk gebed ooit!?
top of page

Werk gebed ooit!?


Ek gesels heel dikwels met mense wat hulle geloof verloor het, of soms net mense wat eenvoudig skepties is oor geloof. Een van die redes wat gereeld genoem word waarom daar opgegee is op God en Jesus is dat gebed nie werk nie. Mense getuig dat hulle gebid het vir sekere uitkomste in hulle lewens en dat dit nooit vir hulle gerealiseer het nie. Sommige beweer hulle het hulle werk verloor en dat hulle, ten spyte van maande se gebede, steeds sonder werk sit. Ander het gebid dat hulle beskerm word teen tragedie, en toe tragedie tref was dit eens te veel vir hulle geloof in ‘n God wat gebede verhoor.

Hierdie reaksies en objeksies sê natuurlik ook baie aangaande sommige mense se veronderstellings oor gebed: gebed gaan skynbaar oor vra en kry, smeek en ontvang, so word gemeen.

In verband hiermee is daar twee verse wat uiters insiggewend is in verband met die doel van gebed. In Matteus 6 gee Jesus een van sy mees breedvoerige leringe oor gebed. In verse 7-8 sê Hy:

Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

Dis nogal vreemd dat Jesus wat uiters positief was oor gebed, en wat self gereeld gebid het, teenoor sy dissipels erken dat die Vader reeds weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra! So ‘n stelling maak geensins sin indien gebed slegs gaan oor vra en ontvang nie. Jesus beweer dan immers hier dat ons nie baie woorde moet mors deur te vra nie! Wanneer ons dus vir God iets vra, gee ons Hom geen nuwe inligting oor ons behoeftes of situasie nie. Ons lig Hom geensins in oor iets waaroor Hy geen kennis dra nie. Indien Jesus dan reg is waarom nog hoegenaamd bid? Waaroor gaan gebed dan, indien nie oor vra en ontvang nie?

Die antwoord lê gedeeltelik in sy opmerkinge oor die heidene. Moenie soos hulle bid nie. Hulle vra net die hele tyd. En hulle doen dit boonop met baie woorde en groot lawaai om die gode se aandag te trek aangesien sommige gode nie altyd gefokus was op hulle sukkelende onderdane nie. Die lawaai en baie woorde was ook soms om die gode moeg te maak sodat hulle eindelik ingee tot die bepaalde versoek, so is geglo. Daar is ook gemeen dat sommige gode nie altyd lus het om te help nie, daarom moet daar vreeslik gesmeek en gepleit word.

Jesus beweer dat God nie soos ander gode is nie. Hy maak dus aanspraak op God se goedheid. Ons hoef nie te lawaai in God se ore nie. Hy hoor mooi en Hy is nie aan die slaap nie. Hy ignoreer ons ook nie. Hy weet wat ons nodig het. Jesus se punt is dat gebed nie in die eerste plek gaan oor vra en kry nie. Gebed gaan oor ‘n verhouding. Dit vervul die funksie van kommunikasie soos tussen ‘n ouer en ‘n kind. Wanneer ‘n kind net die hele tyd vra, vra, vra, dan is daar min sprake van ‘n lewende verhouding. Dit beteken natuurlik nie dat ‘n lewende, spontane verhouding nie tog wel versoeke kan insluit nie.

Indien gebed egter gaan oor konneksie tussen God en sy kinders, dan werk gebed altyd, want God is ‘n God wat luister al beteken dit dat ons nie altyd kry wat ons wil hê nie. Ons kry egter altyd wat ons nodig het: die teenwoordigheid van ‘n liefdevolle Vader! Die belofte van gebed is die teenwoordigheid van God, selfs in donker en onseker tye. God is ‘n Vader wat wil hê ons moet ons harte voor Hom uitstort wanneer ons nie van die lewe kry wat ons verwag het nie.

Dit gebeur natuurlik wel dat ons God smeek en pleit in sommige situasies, maar vir ander redes as die heidene (Ef 6:18; 1 Tim 2:1-2). Ons smeek God nie omdat Hy nie wil help nie, maar omdat ons harte dringend saam met God brand vir die geestelike nood van ‘n sterwende wêreld! So vorm Hy ons harte totdat ons saam met Hom vóél vir die nood van mense en die nodigheid na sy koninkryk.

Daarom verskil ek met my skeptiese vriende en stem ek veel eerder saam met Jakobus wat getuig (5:16):

Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking!


bottom of page