Successful women speak differently [resensie]
top of page

Successful women speak differently [resensie]


Die skrywer is ‘n bekende spreker en mentor. As stigter van die Coaching and Positive Psychology het sy ook verskeie boeke geskryf wat topverkopers geword het. Haar kliënte kom regoor die wêreld voor en sy is ook ‘n gewilde gas op verskeie televisieprogramme.

In dié boek het sy dit oor vroue wat nie hulle volle potensiaal bereik nie omdat hulle gewoon hulleself onderskat. Haar waarneming is dat die mees suksesvolle vroue dikwels nie die mees begaafdes is nie. Dit is nie eens altyd die vroue met die meeste of beste ervaring wat heel bo uitkom nie. Wat hierdie vroue in gemeen het, is eerder iets anders: hulle het die vermoë ontdek om so te kommunikeer dat dit vir hulle die regte deure oopmaak en vir hulle invloed bied.

Haar raad aan vroue wat weer wil dink oor hoe om suksesvol te wees, is kortliks wat ‘n mens ook in die Skrif vind: dat ‘n mens jouself in ‘n gat kan inpraat, of in jouself kan glo en jouself in sukses kan ‘inpraat’. Lewe en dood is in die mag van die tong.

Dit gaan letterlik oor die gebruik van nuanses in die manier waarop jy praat wat die verskil tussen sukses en mislukking maak. Jy begin daarop let wanneer jy verander wat jy dink en wat jy in kritieke oomblikke sê. Wat belangrik is, is dat jy akkuraat oor jouself begin dink sodat jy nie jou belangrikste doelwitte in die proses kelder nie.

Die gewoontes wat sy aanbeveel, sluit in dat jy suksesvol begin dink en klink omdat jy jou kop oor jouself geswaai het, dat jy oor jouself praat selfs sonder om ‘n woord te sê, dat jy vertroue wen deur mense en jouself te respekteer, dat jy die regte vrae leer vra, dat jy leer vra wat jy wil weet, dat jy weet wat om nie wanneer te sê nie, en dat jy nie slegs leer om positief te praat nie maar ook akkuraat.

Talk is not cheap. Dis waaroor dit gaan. Ons skep die wêreld waarin ons daagliks leef deels met ons koppe en denke, en dan praat ons dit in die werklikheid in.

‘n Stimulerende boek, goed geskryf, met talle nuttige illustrasies, deur iemand wat entoesiasties is oor wat sy sê omdat sy daarin glo. En haar denke word telkemale by die Bybel en voorbeelde uit die Bybel aangehaak.

‘n Gawe geskenk vir jouself, of vir ‘n vrou in jou lewe in wie jy glo!


bottom of page