Openbaring hoofstuk 10 [video]
top of page

Openbaring hoofstuk 10 [video]


EET DAARDIE BOEKIE

In hoofstuk 10 volg die visioen van die volle bekendmaking van die inhoud van die boekrol in God se regterhand wat die Lam in 5:1-9 uit sy hand geneem het. Die oopmaak van sewe seëls in hoofstuk 6 het nog nie die volle inhoud van hierdie boekrol ontsluit nie. Die Lam wat dit oopgemaak het in die hemel, gee dit aan ʼn groot engel om die inhoud hiervan op sy beurt met Johannes te deel (10:1-7; vgl. ook Esegiël 2-3). Interessant genoeg, gebeur dit nie as hy op besoek aan die troonsaal van God is nie, maar juis as Johannes weer terug is op die aarde. Hy word dan deur die engel beveel om die boekie te neem en te eet. Anders as by Esegiël (3:3), waar die woord net heuningsoet in die profeet se mond is, proe hierdie boekrol soet in die mond (= maklik om te hoor) en bitter in die maag (= moeilik om te doen). Die opdrag direk hierna is om God se wil aan die nasies, volke en konings bekend te maak (10:11). Dit is asof die sendingopdrag van Matteus 28:19 nogmaals hier herhaal word. Tog moet die profetiese roeping van die kerk nie hier misgekyk word nie. Slegs met God se boekrol sowel in hulle mond en maag (as deel van hulle geestelike metabolisme), kan die kerk haar roeping hier in die eindtyd uitvoer.

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page