Kom na My toe
top of page

Kom na My toe


Wanneer dit so wild gaan by die werk dat ek soms nie weet of ek kom of gaan nie en ek vasbrand met tyd, dan wonder ek soms oor die gejaagdheid van die lewe. Ek wonder of dit werklik nodig is en of iemand sal agterkom as ek iets nie gedoen het nie. My inherente verantwoordelikheidsin laat my egter nooit toe om onverantwoordelik iets sommer net te los nie. As ek so gejaagd lewe, herinner hierdie teks my altyd aan kalmte en rustigheid.

Die Here nooi ons uit “Kom na My toe” Hy buig laag af na my toe en neem my hand. Hy rig eerstens die uitnodiging. Hy wil in ‘n verhouding met my staan. Ek moet net deel word van die verhouding. As ek dan aan Sy voete sit, kan ek net laat gaan. Hier is die veiligste plek om my nood uit te skreeu of net stil te sit en luister. By Hom kan jy kla oor alles wat jou in ‘n greep van moedeloosheid laat. Hier kan jy vrae vra wat jou onseker maak en by God kan jy huil oor alles wat so vreeslik diep seermaak.

Aan Sy voete kan jy veilig voel. Hy gaan nie uitpraat oor jou nie, nee, hy gaan jou vashou tot jy rustig is. Hy gaan jou oorlaaide program en moedeloosheid, in kalmte verander en wanneer jy amen sê, sal jy rustig wees want by God vind jy vrede.

Al voorwaarde hiervoor is, dat jy in ‘n verhouding met Hom sal staan. Hy steek Sy Hand uit en nooi jou om na Hom toe te kom. Wat ‘n uitnodiging… Jy kan dit nie weier nie. Dit is die een uitnodiging wat jy moet aanvaar in jou lewe, wat alles sal verander. Gryp dit aan.


bottom of page