Job: Wanneer die vromes met God begin armdruk

October 1, 2018

 

As God skielik nie meer die antwoord is nie!

 

Godsdiens gee betekenis aan jou lewe. Maar partykeer word godsdiens juis die doring in jou vlees. Partymaal word God jou Opponent; die Een wat jou rus kom versteur. Vra vir Job, daardie kritiese gelowige wat aanvanklik nie kon vrede maak met sy eie deurmekaar omstandighede nie. Asof die verlies van al sy besittings; die dood van sy kinders, en sy ernstige siekte nie erg genoeg was nie, het sy hoogheilige vriende in sy donkerste dag op hom toegesak met onsimpatieke verklarings vir sy swaarkry. Ja, en ook met die verwyt dat Job ‘n geraamte in die kas het. Want g’n mens kan volgens hulle so swaar kry as hy nie ‘n paar geheime sondes teen God gepleeg het nie. Natuurlik verset Job hom teen hierdie soort teologie. Hy is onskuldig. Maar wat dan van God? Waar is God wanneer sy kinders swaarkry? En wat doen Hy hieraan? Met hierdie netelige vrae worstel die boek Job vanaf hoofstuk een tot twee en veertig. Op die ou end bied dit ‘n paar verrassende antwoorde. Kom ons gaan kyk...

 

Een van die heel laastes in die Ou Testament

 

Job dateer uit die tyd na die ballingskap in 586 voor Christus toe Juda se mense deur die Babiloniërs as gevangenes weggevoer is. Job is ‘n wysheidsboek. Dit hoort tot dieselfde genre as Bybelboeke soos Spreuke, Prediker en sekere van die Psalms. Maar terwyl ‘n boek soos Spreuke ‘n duidelike verband tussen gehoorsaamheid aan God se voorskrifte en sy seën voorhou, is Job baie skepties of daar so ‘n direkte relasie tussen gehoorsaamheid en voorspoed is; of tussen swaarkry en straf. Anders gestel: Job verwerp die feit dat swaarkry ‘n teken van God se straf is, of dat voorspoed ‘n direkte bewys is van sy seën. 

 

Waar en wanneer Job op skrif gestel is, weet ons nie. Ook nie wie die skrywer of skrywers van hierdie boek is nie. Want die skrywer verdwyn agter hierdie aangrypende verhaal oor Job se worsteling met God. Maar dit is duidelik dat die skrywer ‘n radikaal nuwe antwoord probeer bied op die vergeldingsdogma wat so gewild was regdeur Israel se geskiedenis. Mense wou gedurig klinkklare antwoorde bied op die vraag hoe God in die wêreld aan die werk is en hoe lyding verklaar moet word. Sonder om God se almag vir een enkele oomblik prys te gee, wil die outeur die lesers deur die loop van hierdie boek daarop wys dat dit nie so maklik is om God se handelinge te verklaar nie. Daar’s eenvoudig geen maklike antwoorde op groot lewensvrae soos: “Hoekom juis ek?”, of: “waar is God in my uur van swaarkry?” nie. Maar God is altyd daar; selfs al verstaan mens nie sy handelinge aldag so mooi nie!

 

Van krisis tot tweegeveg tot vrede

 

Job is ‘n meesterlike boek. Dit open met ‘n uitdaging wat die Satan in die hemelse troonsaal aan God rig om die egtheid van Job se godsdiens te toets (hfst. 1-2). Nadat Job as gevolg hiervan al sy aardse besittings en sy kinders verloor, bly hy aanvanklik getrou aan God. Maar vanaf hoofstuk drie verdwyn Job se berusting oor sy bitter lot soos mis voor die son. Skielik is hy opstandig, kwaad, verbitterd, en selfs ongelowig... Job waag dit om God sy teenstander te noem (16:9); die Een wat hom aan sy nek beetgepak het en hom meedoënloos met sy pyle deurboor het (16:12-14). Nou kan Job armdruk met sy vriende Elifas, Bildad en Sofar wat hom van skynheiligheid beskuldig (hfst. 4-31). Sy vierde vriend, Elihu, ransel hom ook behoorlik af (hfst. 32-37). Maar dan, nadat Job vir hoofstukke lank stoom afgeblaas het teen sy vriende en teen God, antwoord God hom skielik, sommer twee keer op die koop toe (38:1-42:6). Wat ‘n antwoord is dit nie! God gee geen verklarings vir Job se swaarkry nie. Nee, Hy vat hom op ‘n toer deur die skepping. 

 

Op God se skeppingstoer wys Hy nie net sy ongelooflike groot krag en wysheid vir Job nie, maar ook sy eie deernis met al Sy handewerke. Dit laat Job verstom staan. Skielik swyg al sy kwelvrae wat vroeër op God neer gereën het. Nou is die eens verbitterde Job propvol berou oor sy eie onkunde en opstandigheid. Nou bely die einste man van wie God vroeër gesê het dat hy nie sy gelyke as gelowige het nie (1:8), dat hy vir die eerste keer begin verstaan wie God regtig is (42:4-6). Die resultaat? Wel, ‘n diep besef van sy eie kleinheid. En van God se grootheid. Dit bring ook vrede in Job se lewe. Nou kom hy uiteindelik tot rus.


Job het baie vir millennium drie se mense te sê. Dit wil vir ons wys dat daar nie maklike verklarings vir lyding is nie. Mens kan God nie so maklik verstaan soos wat sommige wil voorgee nie. Job wil vir ons wys dat die belangrikste ding wat met mense moet gebeur, is om God regtig te ontmoet. Ek meen: regtig! Wanneer jy en God van aangesig tot aangesig paaie kruis, raak al jou hoekoms en waaroms skielik tjoepstil. Dan ontdek jy God se almag en sy liefde. Dan weet jy dat jou omstandighede geen maatlyn is om God se liefde mee te meet nie. Hy is ’n goeie en liefdevolle God. Aan Sy voete kom jy regtig tot rus.

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

February 14, 2020

February 11, 2020

February 7, 2020

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: