Is jy by die Huis?
top of page

Is jy by die Huis?


Het jy ook as kind soms, woedend vir jou ouers, kwansuis jou goed gepak en weggeloop? Ek het. Sommer baie keer! Net omkeer op keer maar weer met ’n honger maag en bang hart verleë by die huis in te sluip! Gelukkig het my ouers my elke keer weer met soveel liefde ontvang … so asof daar niks dramaties gebeur het nie.

Lukas 15 vertel die verhale van verlore dinge wat terug gevind is. Soos die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun. Dis nogal maklik vir gelowiges om die gedeeltes te lees en heimlik dankbaar te wees dat “ek nie een van die verlorenes is nie omdat ek gered is” en dan tóg eintlik “weg” te wees! Om weg te wees en dit te ontken, is fataal vir ons geestelike lewe. Om te wéét jy’s nie naby aan jou Vader nie en dan te kies om vêr van Hom af te blý, laat die deur oop vir Satan om met ons koppe te smokkel en ons net nog verder van ons Heiland af te rokkel.

Waar is jy nou? As jy tuis by God is, geniet die Koningsmaal-van-vrede wat Hy aan jou voorsit. As jy ietwat verdwaal is, vra die Gees om jou weer sagkens terug te lei. Die Vader wag immers vir jou op die voorstoep van jou eie hart!

Here, ek wil tuiskom, tuis blý by U.


bottom of page