God haat sonde
top of page

God haat sonde


God het aan Sy volk gesê: “Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here” (Lev. 19:37). Ons menslike lewe, selfs van leiersfigure in die geskiedenis van Israel, vertoon ligte en donker kante. Vergifnis, weet ons, word alleen deur geloof in ons Here Jesus Christus geskenk en ontvang (Heb.11).

Moses: By die Meribawaters in die woestyn was God ontevrede met Moses omdat hy die rots twee keer met Aaron se kierie geslaan het in plaas van om met die rots te praat om water te laat uitkom. God het daarop vir Moses en Aaron gesê dat hulle hierdie volk nie sal inlei in die land wat Hy aan hulle sal gee nie. In aanskoue van die beloofde land het Moses die Here gesmeek in gebed om hom tog deur die Jordaan te laat gaan, maar God het hom dit geweier (Numeri 20:1-13).

Gideon: Na die afsterwe van Josua het die Israeliete binne ‘n kort tyd verval onder die heidense volkere van die beloofde land en moes hulle slawe-arbeid verrig en swaar belastings betaal. God het die gekla van Sy volk gehoor en het Gideon gekies om verligting vir Israel te bring. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het was so baie soos sprinkane. God laat toe ’n wonderwerk gebeur deurdat Hy net met ‘n aanvalsmag van drie honderd man onder leiding van Gideon die invallers verdryf. Gideon het die leiding van Israel oorgeneem, maar gou het hy ook afgedwaal. Hy het die Israeliete gevra om die goue oorringe wat hulle by die Midianiete afgevat het aan hom te skenk. Gideon het daaruit ‘n afgodsbeeld gemaak en dit in die stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op die wyse ontrou geword aan die Here (Rigters 8:24 – 27).

Eli: Hofni en Pinehas, was die twee seuns van Eli wat diens gedoen het in die tempel van die Here. Hulle het groot sonde gedoen deur die brandoffers in die tempel te ontheilig en ander goddelooshede te pleeg. Eli het hulle vermaan maar hy het hulle nie gestraf nie en hulle toegelaat om as priesters voort te gaan, met die gevolg dat God die priesterskap van hom en sy nageslag weggeneem het en het hy en sy twee seuns op een dag gesterf (1 Sam. 2:15 – 36).

Salomo: Ten spyte van dat Salomo geseënd was met baie rykdom en wysheid asook met baie mag, het hy sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vroue wat hom verlei het. Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie (1 Kon.11:1 – 9).

Dawid: Dawid het owerspel en moord gepleeg en sy kind by Urija se vrou het ernstig siek geword. Dawid het tot God gebid om die kind se lewe te spaar, maar die kind is dood (2 Sam. 12:15 -20). Dawid het berou oor sy sonde gehad en vergifnis ontvang (Ps. 51).


bottom of page