Soek jy na God, lees dan Rut
top of page

Soek jy na God, lees dan Rut


Waar sien mens God se hand? Of liewers: hoe sien mens dit? Net in buitengewone dinge soos wonders; visioene of openbarings? Of dalk ook in die alledaagse- in klein dingetjies wat met jou en met ander gebeur? Wel, Rut wil beklemtoon dat God se hand juis te sien is in die sogenaamde ‘toevallighede’ van die lewe; in die regte keuses wat mense maak, en in die benutting van die geleenthede wat na hulle kant toe kom. Rut, die Moabiet, se lewe is die klinkklare bewys dat God stilweg maar aanhoudend, werk; dat Hy menslike krisisse en verleenthede in gulde geleenthede omskep om sy doel te bereik.

Waar en wanneer?

Ons weet nie wie die boek Rut geskryf het nie. Nêrens word die skrywer geïdentifiseer nie. Die skrywer verdwyn letterlik agter die verhaal wat vertel word. Ons weet ook nie presies wanneer of waar die boek ontstaan het nie. Geleerdes is min of meer in twee kampe verdeel oor Rut se datering. Een groep meen dat Rut ontstaan het in die koningstyd, in koning Dawid en Salomo se dae rondom die tiende eeu voor Christus. Maar die oorgrote groep navorsers meen dat Rut veel later as dit die lig gesien het. Die Hebreeuse taalgebruik wat deur die loop van hierdie aangrypende boek benut word, dui op ‘n datering rondom die tyd van die Babiloniese ballingskap rondom die jaar 586 voor Christus Maar dit is net ‘n vermoede. Net soos in die geval van die skrywer, is die datering van Rut van minder belang as die inhoud wat hier vertel word.

Rut se naam kom natuurlik nie net in hierdie boek binne die Bybel voor nie. Ook in die Nuwe Testament loop ons haar raak in Jesus se geslagsregister in Matteus 1. Trouens, Matteus doen nogal ‘n verrassende ding deur vroue se name in ‘n geslagsregister in te sluit. Sulke dinge was taboe in die Bybelse tyd. Net mans se name het in familieregisters voorgekom. Om alles te kroon, was Rut van vreemde afkoms. Sy was ‘n Moabiet. Op hierdie manier maak Matteus dit vir ons duidelik dat Jesus die beloofde Messias van alle mense is. Ook vroue en nie-Jode het ‘n plek in sy voorgeslagte.

Die verhaal

Terug na die boek Rut. As ons die boek ter hand neem, dan val dit dadelik op dat ons hier met ‘n vertelling te make het. Rut open met ‘n hartseer toneel: ‘n Droogte (1:1-2) laat Naomi en haar familie na Moab toe trek. Dan volg ‘n krisis: Naomi se man en seuns sterf (1:3-5). Sy besluit om na Israel terug te gaan (1:6). Haar Moabitiese skoondogter, Rut, besluit om haar na Betlehem toe te vergesel (1:7-19). Naomi se leegheid en pyn bly egter op die voorgrond. Te midde van die vroue van Betlehem se vreugde oor haar terugkoms, beklaag sy haar lot (1:19-22).

‘n Belangrike wending in die verhaal is die optrede van ‘n ryk familielid aan Naomi se man se kant. Sy naam is Boas. Hy laat toe dat Rut ekstra koringare optel as kos vir haar en Naomi (2:2-17). Volgens destydse gebruike was Boas ook ‘n losser-figuur wat sy familielede te hulp moes kom as hulle in die moeilikheid was. Hierdie geleentheid word deur Naomi aangegryp. Sy moedig vir Rut aan om een nag aan sy voete te gaan lê en die kombers van sy bene af te haal (3:1-5). Hierdie simboliese gebruik het as ‘n huweliksaanbod in daardie tyd gegeld. Nadat Rut vir Boas vra om haar losser te word (3:9), moes hy eers gaan vasstel of ‘n ander familielid van haar nie as losser wou optree nie (3:12-15). Nadat Boas hierdie probleem op ‘n slim manier oplos (4:1-12), trou hy en Rut. Die resultaat: ook Naomi vind nou ‘n menslike helper in die vorm van haar skoondogter se nuwe man. Hulle kind Obed word deur Naomi as haar eie kind aangeneem (4:16). Op hierdie manier word haar nageslag verseker. Om alles te kroon, was Obed ook die voorvader van koning Dawid (4:18-22).

Die boodskap

Wat leer Rut ons? Wel, God is aan die werk, al sien ons nie sy hand glashelder raak om elke hoek en draai nie. Tussen al die doen en late deur van die hoofkarakters in die verhaal, naamlik Rut, Naomi en Boas, sien ons hoe God sy eie planne bewaarheid. Dit is Hyself wat Rut onder sy vleuels geneem het, soos wat Boas sê (2:12). En dit is God wat uiteindelik sorg dat Naomi se planne slaag en dat sy ‘n nageslag het. Tussen al die slegte dinge deur wat in mense se lewe gebeur, bly God aan die werk. Hy omskep verleenthede in geleenthede en hartseer in vreugde. Op die ou end seëvier God se wil, nie die sonde nie. Daaraan kan ons tot vandag toe vashou.


bottom of page